RIVERSDAL NUUS - Die onwettige stroop van vetplante in die Sukkulente Karoo-bioom het sedert 2019 skerp toegeneem en hou ernstige gevolge in vir die plaaslike ekosisteem en bewaringsekonomie.
Daarom is 'n grootskaalse plattelandse veiligheidsimulasie op Vrydag 22 Augustus by die Riversdal-skouterrein aangebied om wetstoepassingsagentskappe se gereedheid teen die handel in bedreigde spesies te toets.
Die oefening, onder die vaandel van die Tuinroete se Plattelandse Veiligheidsinisiatief in samewerking met CapeNature en die SAPD-eenhede vir veediefstal en bedreigde fauna en flora, het 'n wye verskeidenheid rolspelers byeengebring.
Dit sluit in die SAPD, Plattelandse Veiligheidskoör-dineerders, Distriks- en Plaaswagforums, provinsiale verkeer, Hessequa-verkeer en -wetstoepassing, asook speurders van Worcester, Beaufort-Wes en Oudtshoorn.
Volgens Corné Claassen van CapeNature word spesies wat uitsluitlik in dele van die Hessequa en Suid-Kaap voorkom, jaarliks geteiken.
"Baie van hierdie plante het uiters beperkte verspreiding en hul skaarsheid en unieke voorkoms maak hulle waardevol vir onwettige versamelaars.
Veral ou veldplante, wat moeilik in kwekerye gekweek kan word, is in aanvraag," sê Claassen.
Sedert 2019 is 'n reeks suksesvolle arrestasies gemaak en talle plante gered voordat dit landuit gesmokkel kon word.
Na raming word slegs sowat 25% van die plante wat onwettig versamel word, wel onderskep.
Groot bedreiging vir biodiversiteit
Claassen verduidelik dat verskeie vetplantspesies reeds weens stropery as "Uitgesterf in die Natuur" gelys is.
"Elke spesie vervul 'n rol in die ekosisteem. Wanneer getalle afneem, word hulle minder veerkragtig teen droogtes en vloede.
Die verlies van biodiversiteit tas ook die toerisme-ervaring aan en benadeel plaaslike gemeenskappe wat van bewaringstoerisme leef," sê hy.
Samewerking die sleutel
Om die uitdaging van uitgestrekte gebiede en swak kommunikasie te takel, werk CapeNature saam met die polisie, plaaswagte, sekuriteitsfirmas en grondeienaars.
"Hierdie samewerking dien as 'n magsvermenigvuldiger.
Dit maak ons gesamentlik baie meer effektief in die bekamping van misdaad, insluitend omgewingsmisdaad," verduidelik Claassen.
CapeNature woon ook maandelikse vergaderings by waar inligting oor tendense, suksesvolle optredes en toekomstige operasies gedeel word.
Gesamentlike aksies met die SAPD vind gereeld plaas, onder meer tydens die jagseisoen om nakoming van wetgewing te monitor.
Gemeenskappe se rol
Claassen vra dat grondeienaars en inwoners waaksaam moet wees:
- Moenie inligting oor skaars spesies deel nie.
- Rapporteer vreemdelinge wat navraag doen oor plante of werkers aanstel om dit te versamel.
- Verskaf voertuigregistrasies en ander verdagte waarnemings aan CapeNature of die polisie.
- Wees versigtig met wat op sosiale media gedeel word.
"Ons plaaslike gemeenskappe is ons oë en ore. Met hulle hulp kan ons bedreigde spesies beter beskerm en stropery doeltreffend bekamp."
Brigadier Zukiswa Matumbu, Wes-Kaapse provinsiale hoof vir proaktiewe polisiëring, het die geïntegreerde poging geloof en beklemtoon dat samewerking reeds verskeie suksesse opgelewer het.
Volgens Joe-Marie Heunis van die Riversdal GPF is die jaarlikse simulasie noodsaaklik.
"Met die toename in die plundering van vetplante in die Brandrivier-omgewing, is besluit om hierdie jaar op bedreigde plante en diere te fokus.
Die unieke habitatte waarin hierdie spesies voorkom, is uiters kwesbaar," het sy gesê.
Die Riversdal-skougenootskap het die skouterrein gratis beskikbaar gestel as ondersteuning vir veiligheid en landbou.
Die oefening is wyd verwelkom as 'n stap vorentoe in die beskerming van beide plaasgemeenskappe en bedreigde biodiversiteit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’