GEORGE NUUS - Zani van der Vyver, 'n gr. 8-leerder aan die Hoërskool Outeniqua, is by die Nasionale Jeugskoukampioenskappe 2026 as Suid-Afrikaanse kampioen in die junior pluimvee-afdeling aangewys.
Die kampioenskappe is vanjaar by die Merensky Landbou Akademie in Tzaneen, Limpopo, aangebied, en deelnemers uit agt provinsies het om nasionale titels meegeding.
Zani, wat die Wes-Kaap verteenwoordig het, het die goue medalje as algehele wenner in haar afdeling met 'n uitsonderlike puntetotaal van 99% verower. Sy is ook as die wenner in die skoumanafdeling aangewys.
Daarbenewens het sy die trofee vir die beste prestasie in die statiese afdeling ontvang, waarin juniors én seniors meegeding het. Hierdie afdeling sluit onder meer pluimvee, watervoëls, konyne, duiwe, kulinêre kuns, suiwelbereiding, fotografie en hekelkuns in.
Zani van der Vyver met haar praghaan, 'Stompie'. Foto: TeamPhotoSA
Die jeugskoudeelnemers word in drie afdelings beoordeel. Die eerste is 'n teoretiese eksamen waarin hul kennis van onder meer diererasse, siektes, herkoms en eienskappe getoets word. In die tweede afdeling, was en voorbereiding, moet die deelnemers hul diere volgens die toepaslike rasstandaarde was, droogmaak en skougereed kry.
Die derde afdeling, skouman-skap, vind op die tweede dag plaas. Die deelnemers moet hul diere korrek hanteer en aan die beoordelaars vertoon, terwyl hulle elke deel van die dier volledig bespreek.
Die algehele wenners word bepaal deur die punte van al drie afdelings bymekaar te tel, waarna goue, silwer en brons medaljes toegeken word.