GEORGE NUUS - Die 19-jarige oud-Kwagga Quintus Campbell het onlangs 'n groot mylpaal bereik toe hy deel was van die produksiespan agter die bekende kletsrymer Early B (Earl Swartz) se nuutste musiekvideo, Alle Eer.
Campbell studeer tans televisie en produksie aan BLC Entertainment in Gqeberha (Port Elizabeth) en was een van net vier studente wat gekies is om saam met Early B se professionele span te werk.
"Dit was my tweede groot produksie," vertel hy trots. "Alles het so vinnig gebeur - daar was nie tyd vir twyfel nie. Ek het geweet ek moet die kans aangryp en die beste daarvan maak."
Sy liefde vir die kamera het reeds op hoërskool begin. "Ek het al shoots begin doen toe ek nog by die Kwaggas was," sê hy.
"Daar was tye wat ek by die skool moes uitteken om foto's te gaan neem. Ek het baie van my tienerjare agter 'n kamera deurgebring, maar dit het my nooit gepla nie, want ek het geweet wat ek wou hê in die lewe."
Campbell beskryf sy ervaring op stel as amazing en sê hy het baie van spanwerk geleer. "Ons het mekaar gehelp en nie mekaar afgetrek nie. Ek het geweet spanwerk gaan 'n groot rol speel, daarom moes ons altyd positief bly."
Hy sê Early B se musiek is vir hom 'n groot inspirasie.
"Die tipe woorde en stories wat hy deur sy musiek vertel motiveer my om daagliks te verbeter, meer op myself te vertrou, en om altyd God in my planne in te sluit. Sonder Hom sou niks moontlik wees nie."
Campbell is ewe gemaklik voor en agter die kamera. Hy is 'n ekstra in die kykNET-reeks Juffrou X, en skiet sy eie kortfilms as deel van die kursus wat hy volg.
Quintus Campbell (19) op kampus by BLC Entertainment in Gqeberha.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’