Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Sielkundestudent van Universiteit Stellenbosch het haar visier op die internasionale verhoog met iPOP (International Presentation of Performers) se gewilde kompetisie wat volgende jaar in Los Angeles plaasvind.
Dié oud-Kwagga, Josline Jordaan (19), het dalk 'n kop vir diep dinge, maar haar voete brand vir toneelspeel.
Sy is in Augustus oor die eerste hekkie toe sy met haar oudisie vir iPOP se 2025-kompetisie 'n plek losgeslaan het.
Josline is een van 25 Suid-Afrikaners wat die geleentheid gekry het om in Los Angeles op te tree.
Nou is daar baie harde werk wat voorlê om borge te vind wat haar sal help om haar droom te bewaarheid.
Die kompetisie strek van 25 Junie tot 1 Julie en kos 'n allemintige R275 000 wat beide haar en haar ouma se kostes insluit.
Josline het op skool haar eerste rol in 'n televisiedrama losgeslaan. Foto: Michelle Pienaar
"Omdat ek nog nie 21 jaar oud is nie moet ek vergesel word," het sy vertel. Die hotel waar deelnemers vir die ses aande tuisgaan is The Millennium Biltmore in Los Angeles. Werksessies en etes word ook ingesluit.
Op skool het Josline reeds die water getoets toe sy die rol van Leandré in die kykNET-televisiereeks Juffrou X gespeel het. "My dramajuffrou, Karleine Herbst, het my hier bygestaan en gemotiveer," het sy verduidelik. Dit is hierdie einste juffrou wat haar ook aangemoedig het om aan iPOP deel te neem.
Vir haar oudisie het Josline 'n monoloog van die karakter Cher voorgedra, vanuit die film Clueless. Die monoloog strek net oor 'n minuut. "Ek was besig met my vyfde reel, toe stop hulle my. Hulle was heeltemal tevrede met my voordrag," het Josline vertel.
Op 'n vraag wat sy graag wil bereik, het Josline gesê sy hoop om deur een van die internasionale agentskappe raakgesien te word. Kontak Josline by 064 284 9426.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’