GEORGE NUUS - Dawie van Wyk, 'n oud-Kwagga, wat saam met sy gesin in Shanghai, China woon, was gelukkig om na Suid-Afrika te kon vlieg van Kambodia af waar hulle vir die Chinese nuwe jaar vakansie gehou het.
Dit te midde van 'n situasie waar sommige Suid-Afrikaners vasgevang is in China as gevolg van die uitbreking van Covid-19.
Hulle sou eers net vir 'n week hier bly, maar dit het nou al drie weke geword.
Dawie en sy vrou, Magda is verbonde aan die Yew Chung International School of Shanghai waar hy Wiskunde, en Ontwerp en Tegnologie aanbied in die hoërskool en Magda 'n Jaar 1- (graad 1-) onderwyser in die Junior Skool is. Die skool volg die Cambridge-stelsel.
Die egpaar se leerlinge is tans oor die hele wêreld versprei omdat hulle na hul tuislande gegaan het met die uitbreek van Covid-19.
Die klasse moet aangaan en die Van Wyks doen deurnagaanlynklasse weens die verskille in tydsones.
Terwyl Ma en Pa in die dag voorberei vir die klasse, bly die twee seuns, Oliver (8) en Paul-Wernich (7), besig met hulle e-leerprojekte.
"Ons is dankbaar dat ons betyds na Suid-Afrika gekom het en is nou al drie weke weg uit China. Op dié stadium weet ons nog nie wanneer die skole daar sal heropen nie," sê Dawie.
Die gesin het pas na Stellenbosch vertrek waar hulle by Magda se ouers sal tuisgaan.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'