Sowat 'n 1 000 vrywilligers, wat die Arende-rugbyspan, ETA- en NMMU-studente ingesluit het, het voor die wegspring en eindpunt by Mountview Resort in Yorkstraat saamgedrom om die geesdriftige deelnemers van die 5km-pretloop te stoot. Die opgewondenheid was tasbaar.
Een van die middeljarige dames Ragmaat Rooi van die Mandla Sport 4 Change in Uitsig het gesê, "Net omdat hierdie oulike jongman (Arend, Wayne Khan) my stoot, gaan ek almal wys ek wen."
Ragmaat het nou wel nie eerste gekom nie, maar sy het wel 'n medalje vir haar deelname ontvang.
Nie net het die jonges soos Noah Mvelase (3) van Optima George deelgeneem nie, maar ook ouer deelnemers soos Passiena Jansen (99) van Rosemoor wat die oudste deelnemer was het in die pret gedeel.
Selfs Phillip Kotzé, 'n hemipleeg en sy hond Magriet Swaaiboude ry elke jaar in 'n selfgemaakte fietskar met klank agter die deelnemers aan en hou saam met Algoa FM wat een van die media borge is die ondersteuners gesellig.
Ernst Van Dyk wat sedert die eerste OCC in 2002 elke jaar deelneem, het weereens in die 42,2km-wedren met 01:08:36 koning gekraai. In die tweede plek was Andries Scheepers met net 'n sekonde agter Van Dyk met 01:08:37 en in die derde plek was Stuart Mc Creadie met 01:08:44.
Van Dyk het tydens die prysoorhandiging vertel waarom hy elke jaar aan die spele deelneem. “Hierdie jaar se ry is alles vir Esther wat destyds na my toe gekom het met die idee dat ek by die OCC betrokke raak. Ek bedank haar dat sy my aan hierdie wonderlike gebeurtenis bekendgestel het, want soos Madiba gesê het, sport kan die wêreld verander.”
Mathys Roets 'n bekende Suid-Afrikaanse sanger, het 'n welverdiende eerste plek in die 10 km senior mans parapleeg afdeling met 00:50:28 verwerf. Dit was vanjaar Roets se derde deelname aan die OCC.
Brenda Vorster, die bestuurder van die hoofborg, George-lughawe was baie tevrede met die verloop van die dag. “Soos ons elke wenner vir hom of haar deelname beloon, word ons herinner aan ons betrokkenheid by die mense, nie net mense nie, maar mense met gestremdhede. Ons salueer julle as sportmanne en vroue en bedank elkeen vir julle deursettingsvermoë om sukses te hê en om hierdie dag 'n groter sukses te maak.”
Ansie Swart, koördineerder van die OCC wat voltyds by Telkom werk, het in haar spaartyd die OCC gereël en is vol hoop vir volgende jaar se wedren wat die naweek van 21 Februarie in sy 13de bestaansjaar gaan wees. "Geloof en vertroue in die Here en geweldige ondersteuning van familie en vriende het my help deurdruk en om toe te pas wat ons van Esther as mentor en persoon geleer het. Vanjaar se OCC was 'n reusesukses, ek bedank al my ondersteuners."
Swart het ook gesê dat hulle beoog om meer skole by die volgende OCC betrokke te kry om bewustheid rondom gestremdhede onder leerders te bevorder. Skoolhoofde, Christo Vorster en Francois Moll, van onderskeidelik Hoërskool Outeniqua en York High, het vanjaar ook gehelp rolstoele stoot.
Sien nog foto's hier.

Die drie 42,2km-wedren kampioene van links, Ernst Van Dyk (1ste), Andries Scheepers (2de) en Stuart Mc Creadie (3rde). Foto: Henrica Veldman
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'