GEORGE NUUS - 'n Mamma het die nood in haar dogter se kleuterskoolklas raakgesien en het uit eie insiatief 'n projek geloods om skryfbehoeftes vir die Sonneblomland-crèche se gr.R-klas in te samel.
Daar is twee houers by die onderskeie Spur-restaurants in George beskikbaar - Timber Wolf Spur by die Garden Route-winkelsentrum en Geronimo Spur in Yorkstraat - waarin skryfbehoeftes geplaas kan word om dié leerders te help om hul eerste treë na kennis te ondersteun. (Kyk gerus na die lys van benodigdhede onderaan dié berig.)
Alle skryfbehoeftes wat hiér geskenk word, sal op 13 Januarie aan die kleuterskool oorhandig word.
Kimberley Samuels, wie se kinders albei hierdie kleuterskool in Proteapark bygewoon het, is juffrou Felicity Williams ewig dankbaar vir haar bydrae tot hul opvoeding. "Ek het gesien wat sy alles vir die kinders doen en ek het die nood in die klas raakgesien.
Juffrou Felicity Williams koop die meeste skryfbehoeftes en benodigdhede vir haar gr.R-klas uit haar eie sak.
"Juffrou Felicity koop soveel skryfbehoeftes en benodigdhede uit haar eie sak. Sy doen haar algehele bes om die kinders skoolgereed te kry. Ek het gevoel ek wil help," sê Samuels.
Proteapark is 'n behoeftige woongebied naby Le Vallia. Die kinders praat meesal Afrikaans. Die ouers kan nie noodwendig skryfbehoeftes voorsien nie. Daar is sowat veertig kinders in dié crèche se graad-R-klas. Die kleuterskool is geregistreer as 'n nie-winsgewende organisasie.
Samuels se dogtertjie, Bethany Joy Samuels, het vanjaar haar graad-R by die Sonneblom -crèche voltooi. "Sy kon nie haar naam skryf toe sy by juffrou Felicity op vyfjarige ouderdom begin het nie. Nou skryf sy vol sinne en doen basiese wiskunde," sê Samuels. "Alhoewel my kinders nou klaar is met kleuterskool, voel ek in my hart ,ek wil graag juffrou Felicity help."
Juffrou Felicity Williams tydens die gr.R-gradeplegtigheid in Desember.
Vir juffrou Felicity Williams is daar in elke kind iets spesiaal: "Dit gee my vreugde om kinders op 'n kreatiewe manier tot die beste van my vermoë te ontwikkel. Die feit dat hierdie ouer die nood gesien het, lê my na aan die hart. Sy het dit raakgesien. Ek bedank haar uit my hart uit."
Juffrou Williams saam met Bethany Joy Samuels (6, middel) en haar klasmaats.
Enigeen wat Samuels met dié projek of ander geleenthede wil ondersteun, kan haar by 082 505 5069 kontak. "Ek wil graag sien hoe die gemeenskap van George bymekaar kom om die graad-R-klas van 2025 te ondersteun," sê Samuels.
Lys vir skryfbehoeftes:
- Skêre
- Draaikryte
- Witbord-filtpenne (koki's)
- Permanente en gekleurde filtpenne (koki’s)
- Wondergom (Prestik)
- Kleeflind (breë cellotape)
- Wit papier
- Plastiek
- Gom
- Verf (vier kleure)
- Penne
- Potlode
- Plakkers vir goeie werk
Imed van Wyk (6, middel) en Wayrin Jansen (6, regs) tydens die gr.R-gradeplegtigheid in Desember.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’