GEORGE NUUS - Piet Schuin vier vandag, 8 November, sy 100ste verjaarsdag, 'n mylpaal wat met vreugde en dankbaarheid gevier is.
Die feesvieringe het reeds Saterdag afgeskop met 'n saamtrek van familie en vriende, waar skape op die spit gebraai is en die Donkiekar-boereorkes die atmosfeer met lewenslustige deuntjies gevul het.
Oom Piet, soos almal hom noem, is gebore in Die Eiland vandag beter bekend as Denneoord en het as kind in Standerstraat gewoon. Later is hy na Mannstraat waar hy tot vandag woon.
Hy het 'n uitstekende geheue en kan nog goed onthou hoe hy as 'n jong seun gereeld sy pa se koeie moes gaan haal en melk by mense in George moes aflewer.
Sy skoolloopbaan het hom na die Convent, Laerskool Manie le Roux, en uiteindelik na Hoërskool Outeniqua gelei.
Voordat oom Piet tydens die Tweede Wêreldoorlog sy plig gaan doen het, het hy by 'n skoenfabriek in Wellingtonstraat gewerk. Na die oorlog het hy sy loopbaan voortgesit deur vir ERPM-myn in Boksburg te werk.
Later het hy teruggekeer na George en 'n suksesvolle loopbaan in die boubedryf nagestreef. Hy het selfs gehelp om die Meadestraat-bioskoop te bou.
Oom Piet het daarna by Urbans Industries aangesluit waar hy vir 45 jaar lank gewerk het tot in sy sewentiger jare. Hy het egter nie net in sy beroep uitgeblink nie; saam met sy oorlede vrou, tannie Tos, was hulle vanaf 1980 vir 14 jaar huisouers by Môreson-kinderhuis gewees.
Oom Piet was ook 'n uitblinker sportsman en het vir George in rugby, sokker en hokkie geskitter. Hy het selfs vir George se sokkerspan gespeel tot in sy laat veertigerjare. Vandag kan 'n mens hom steeds aktief in sy tuin in George-Oos besig sien, want vir hom beteken harde werk gesondheid.
Sy lewensmotto is duidelik: "Vertrou op die Here, Hy sal voorsien."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’