GEORGE NUUS - Krag is die stok in die speke vir inwoners van Moeggeploeg, 'n informele nedersetting in Seaview, Pacaltsdorp.
'n Blitsbesoek van die openbare orde polisie en munisipale amptenare het inwoners mateloos ontstel nadat al die onwettige koppelings van elektrisiteit binne 'n ommesientjie uitgeruk is. Hierdie aksie het Dinsdagoggend, omstreeks 09:00 plaasgevind.
"Wat nou van al die vleis in my yskas?" vra een inwoner benoud. "Gelukkig het ek darem nog 'n vrieskas wat help dat goed vir 'n week koud bly."
Daar is sowat 84 plakkershutte, elk met 'n gesin, wat in Moeggeploeg woon. Die seeuitsig is veral iets besonders. Hierdie andersins gemoedelike atmosfeer het vinnig verander toe die polisie met hul aksie begin het.
Kinders, wat natuurlik nou met skool-vakansie is, het hul misnoeë uitgedruk deur motorbande in die pad te brand. Kort daarna het rubberkoeëls en traangas gevlieg. Die inwoner met die vrieskas beweer dat daar lelike goed vir die kinders gesê is. "Hulle het onse kinders gedreig dat hulle nie vanaand 'n huis gaan hê nie," het sy gesê.
Dit is welbekend dat inwoners hulself tot onwettige koppelings van elektrisiteit wend, wat allerlei ander gevare ook inhou. George Herald het al telkemale oor hierdie gebruik gerapporteer.
Volgens die inwoner het hulle egter "toestemming" by George-munisipaliteit om krag so te gebruik, totdat hulle amptelik krag van die munisipaliteit kan kry. "Die brief is by die leier," het sy gesê. Hierdie inligting kon nie bevestig word nie.
Beweringe dat die polisie met lewendige ammunisie geskiet het, is vir kommentaar gestuur.
Motorbande is in die straat gebrand. Skoolgaande kinders was glo hier betrokke.
Specialized Solar Systems het verlede Desember sonkrag aan families verskaf. "Daardie is fantasies, maar onthou, dit help net om drie liggies in 'n wooneenheid te laat brand," vertel Rudy Ruiters, een van die leiers van die gemeenskap. "Ons is baie dankbaar daarvoor, maar ons moet kan kook, en ons het warm water nodig."
Volgens Ruiters het die munisipaliteit belowe dat hulle nie hul konneksies sal afbreek voordat hulle elektrifisering ontvang nie.
Verteenwoordigers van Moeggeploeg en George-munisipaliteit het Dinsdagmiddag vergader.
Provinsiale polisiewoordvoerder, lt. kol. Malcolm Pojie, het bevestig dat lede van die openbare orde polisie gehelp het om munisipale personeel wat onwettige kragverbindings verwyder het, by te staan en te beskerm. Hy bevestig ook dat traangas gebruik is toe die oproerige skare die pad met brandende bande begin versper het. "Geen arrestasie is gemaak nie. 'n Saak van openbare geweld is egter vir verdere ondersoek geopen."
Wat sê George-munisipaliteit?
George-munisipaliteit het bevestig dat die elektriese ingenieursdienste-afdeling, in samewerking met wetstoepassingsbeamptes, 'n operasie uitgevoer het om onwettige elektrisiteitsverbindings wat in die gemeenskap geïdentifiseer is, te verwyder.
Volgens munisipale woordvoerder, Chantèl Edwards, sal George-munisipaliteit onder geen omstandighede ooit 'n toestemmingsbrief vir onwettige elektriese verbindings uitreik nie.
"Hierdie onwettige koppelings hou ernstige risiko's vir lewe en eiendom in - insluitend om dood geskok te word, brande en skade aan munisipale infrastruktuur - en sal nie geduld word nie," sê Edwards.
Tydens die operasie het wetstoepassing, verkeersbeamptes en die brandweer ook gereageer op 'n verwante voorval waar hout in die pad op die hoek van Rose- en Hibiscusstraat aan die brand gesteek is. Lede van die polisie en openbare orde eenhede was op die toneel, en die situasie is vinnig onder beheer gebring.
Edwards het bygevoeg dat die munisi-paliteit die gebied deurlopend sal monitor, waar nodig optree, en voortgaan om openbare bewustheid te bevorder oor die gevare en wetlike gevolge van peuter met elektriese infrastruktuur.
Lees 'n vorige artikel hier:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’