GEORGE NUUS - Haar deur is altyd oop, al is dit vir 'n vinnige "hallo" of 'n koppie koffie. Elzeth Grobler, 'n gebore Bolander, is as nuwe hoof van Carpe Diem aangestel na die aftrede van die vorige hoof, Karools Hauptfleish.
Sy sê dit voel nog vreemd om in die hoof se stoel te sit, maar sy raak stadig maar seker daaraan gewoond.
"Ek het op Worcester grootgeword en na my studies op Wellington het my onderwysloopbaan op Upington by die Voorbereidingskool Fanie Malan begin. Daarna was ek bevoorreg om skool te hou in die Kaap en later ook skoolhoof te word van Hebron Christenskool."
Die Groblers het in 2010 na George verhuis en Elzeth het by Kansa se kinderafdeling aangesluit. Dis hoe dit gebeur het dat sy die besondere personeel en leerders van Carpe Diem skool ontmoet het geklee in Kansa se Toktokkie-kostuum.
"Daardie dag het die Carpies my hart gesteel. Hoe wonderlik dat ek 'n paar maande later, in 2012, 'n aanstelling by hierdie unieke skool kon kry," sê sy. "Ek was bevoorreg om HOD en toe adjunkhoof te raak. Vandag is dit met 'n wonderlike, maar tog nederige gevoel van dankbaarheid dat ek Carpe Diem verder mag lei."
Elzeth sê sy kan nie anders as om die vorige skoolhoof, Karools Hauptfleisch, te bedank vir die wyse waarop hy Carpe Diem skool uitgebou het tot 'n pragskool vir leerders met spesiale behoeftes nie.
Caprep Diem se nuwe skoolhoof, Elzeth Grobler, saam met 'n paar leerders. Agter, van links: Petronella Pietersen, Jessica van Taak en Pamnesia Twigg. Voor: Neo Matini, Jayden Janklaas, Grobler, Preston Tieties en Rudowaan Lottering.
"Met die Here se wysheid, liefde en leiding, 'n fantastiese personeelspan en dié oulikste leerders ter wêreld gaan ons beslis bly streef daarna om elke dag te gryp en te bly skitter. Ek glo dat ons Carpies die ligdraertjies van hoop is vir elke persoon wat êrens in die lewe ervaar dat hulle nie goed genoeg is nie of hul gestremdheid ervaar as 'n struikelblok."
Sy weet in haar hart dat die skool se kosbare leerders mense sal inspireer om hul eie uniekheid voluit te begin uitleef en om die gemeenskap en besighede te motiveer om mense met spesiale behoeftes 'n kans te gee.
Elzeth spreek ook haar opregte dank uit aan haar ouers, familie en vriende, asook elkeen betrokke by Carpe Diem skool, skoolhoofde en die distrikskantoor vir die hartlike manier waarop hulle haar aanstelling saam met haar gevier het.
"Jy het net vandag - leef voluit! I don't want to impress, I want to inspire! Be that somebody that makes everybody feel like a somebody today," is haar leuse.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'