GEORGE NUUS - Die George-poskantoor in Yorkstraat gaan nie sluit nie.
Louise Brugman, woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo), het dit bevestig in antwoord op 'n navraag van George Herald oor verskeie bewerings in dié verband wat die ronde doen.
Die sakereddingspraktisyns wat probeer om Sapo uit sy benarde posisie te red, het in September te kenne gegee dat hulle 'n verdere R3,8 miljard van Nasionale Tesourie teen 'Dag Zero' - 31 Oktober - nodig het om likwidasie te vermy.
Die koerant probeer sedert verlede week om Sapo se kommentaar te kry oor of Tesourie 'n aanduiding gegee het of 'n reddingsboei wel verwag kan word.
Brugman het 'n mediaverklaring oor die aangeleentheid belowe sodra die finansminister, Enoch Godongwana, sy mediumtermynbegrotingstoespraak gelewer het. Dit het verlede Woensdag, 30 Oktober, plaasgevind. Geen verklaring is tot op hede ontvang nie.
Godongwana het na afloop van sy begrotingsrede gesê daar is geen geld beskikbaar om die poskantoor te red nie en dat die departement van kommunikasie en digitale tegnologie self maniere in hul eie begroting moet vind om die debakel aan te spreek.
In die tussentyd het die Pacaltsdorp-seniorsklub hul kommer met George Herald gedeel omdat hulle probleme ondervind het met die onttrekking van hul geld uit 'n gesamentlike rekening wat die lede by die Posbank het.
Hulle kon hulle fondse nie soos gewoonlik onttrek nie, maar is gevra om 'n vorm in te vul om dit aan te vra.
Die vorm is op 27 Oktober by die George-poskantoor ingehandig en hulle is belowe dat die geld in hul rekening oorgeplaas sou word.
Die klublede gebruik die rekening as 'n manier van spaar en aan die einde van elke jaar word die geld onder al die lede verdeel.
Die koerant het 'n navraag uitgestuur na die Posbank, wat belowe het om terugvoer te stuur. Dit is nog nie ontvang nie, maar gister (Donderdag 7 November) het die seniorsklub baie verlig laat weet dat hul geld inbetaal is.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’