GEORGE NUUS - Onderwysers in George het omtrent spesiaal gevoel met 'n dag wat net aan hulle opgedra is. Sowat 200 onderwysers van Kring 3 in George, wat areas net buite die dorp ook insluit, is op Vrydag 2 Augustus by George Voorbereidingskool met heerlike eetgoed en 'n gelukstrekking bederf.
Distriksdirekteur vir die Eden en Sentraal Karoo-onderwysdistrik, Jewel Jonkers, asook Thembekile Bango, 'n kringbestuurder van Kring 3, het die geleentheid bygewoon.
Jonkers het by navraag gesê die derde kwartaal in die Eden en Sentraal Karoo-onderwysdistrik word opgedra aan onderwysers om waardering vir hulle te betoon. "Ons distriksmantra is: ‘Together we rise’.
"Onderwysers is genooi vir 'n middag van waardering en danksegging. My visie hiermee is om die waardigheid, waarde en plek van onderwysers in skole en gemeenskappe te herstel," het Jonkers gesê.
Die distrik het 8 kringe, waarvan 2 in George en onmiddellike omgewing is. Kring 8 het ook vroeër hul bederfdag geniet, terwyl die oorblywende ses kringe ook geleenthede bygewoon het. Kring 3 was die laaste kring wat hul onderwysers op hierdie manier vereer en waardeer het.
"Onderwysers verdien om beter behandel te word. Hulle is die reuse op wie se skouers die samelewing staan. Hulle het ons distrik na die tweede hoogste presterende distrik in die Wes-Kaap geneem. Onderwysers maak nuwe wêrelde vir hul leerders oop."
Volgens Jonkers is hierdie 'n geleentheid wat jaarliks gevier sal word. Elke kring in die streek sal so 'n spesiale dag geniet.
Onderwysers is genooi vir 'n middag van waardering en danksegging.
Kring 3 was die laaste kring wat hul onderwysers op hierdie manier vereer en waardeer het.
Thembekile Bango, 'n kringbestuurder van Kring 3.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’