Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 100 jaar en nie uit nie. Ontmoet tannie Nannie Joubert, 'n inwoner van die Tuiniqua-versorgingsentrum, wat verlede Vrydag 'n 100 jaar oud geword het.
Sy is op 25 Februarie 1922 in Lydenburg gebore.
Omring deur inwoners, personeel van Tuiniqua en haar een kleinseun, Jean Meyer, het sy Vrydag breed geglimlag toe 'n verrassingspartytjie vir haar gehou is. Die aand is 'n verjaarsdagpartytjie by die terrein van Laerskool George-Suid gehou wat deur familie en vriende bygewoon is.
Haar eggenoot, Hansie Joubert, is 'n paar jaar gelede oorlede. Sy het twee kinders, Johannes (Boet) Joubert en Elsie Meyer. Sy kan ook spog met ses kleinkinders, sewe agterkleinkinders en twee agter-agterkleinkinders.
Dis 'n lang pad wat sy geloop het tot hier. Oor die jare het sy baie dinge beleef. Daar was onder meer die Tweede Wêreldoorlog, die koms van televisie, selfone, rekenaars en meer onlangs die Covid-19-pandemie.
VIDEO: Inwoner word 100 jaar oud:
Sy het aan George Herald vertel, dat daar geen spesifieke rede of niks besonders is dat sy so oud geword het nie. "Ek vat dit van dag tot dag en bly positief."
As sy terugkyk, is sy self verbaas dat sy 100 jaar oud geword het. "Daar gebeur so baie dinge in 'n mens se lewe, en mens is dan verbaas hoe goed alles afgeloop het."
Sy loop nog en is aktief. "Ek is nou in daardie stadium van my lewe waar ek 'n voorbeeld vir my familie is."
Tobie Nortjé, die voorsitter van Tuiniqua se beheerraad, het gesê dat al gebeur daar dinge, is daar een ding wat 'n goue draad het: Liewe Jesus. Hy vat sand en maak pêrels daarvan. Hy vat steenkool en maak diamante daarvan. Hy is nog altyd besig met tannie Nannie. Hy het nog nie van haar vergeet nie.
Tannie Nannie Joubert Vrydag saam met Alani Voigt, sentrumhoof vam Tuiniqua Versorgingsentrum en Tobie Nortje, voorsitter van die beheerraad.
Jean Meyer het gesê, sy ouma is nog baie op en wakker. Sy hoor net 'n bietjie moeilik. "Sy verstaan alles wat mens haar vra. Sy kan nog 'n gesprek voer en onthou ook baie goed." Volgens hom, is sy ontsettend baie lief vir haar familie.
Alani Voigt, sentrumhoof van Tuiniqua, het gesê dat sy is al meer as 20 jaar 'n inwoner. Sy het tot onlangs op haar eie, in 'n woonstel by die sentrum gewoon en ontvang nou semi-versorging.
"Sy is die mees positiefste mens wat ek ooit teegekom het. Ek het haar nog nooit hoor kla nie. Waar sy is, word daar altyd gelag. Sy is 'n toegewyde kind van die Here."
Tannie Nannie Joubert Vrydag tyens die partytjie by Tuiniqua.
Tannie Nannie Joubert Vrydag saam met een van haar kleinseuns, Jean Meyer. Fotos: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'