GEORGE NUUS - Oewerstraat se beroemde Kersliggies word môre, Saterdag 6 Desember, weer aangeskakel.
Van 19:00 sal die straat in die gees van Kersfees in 'n wêreld van feestelikheid omskep word. Die liggies sal elke aand tot 23:00 aanbly mits die weer dit toelaat, en sal tot 2 Januarie besigtig kan word.
Die inwoners het die afgelope tyd al hul liggies begin uitpak en opsit. Kwick Access Garden Route het goedgunstiglik 'n hidrouliese hyskraan beskikbaar gestel, en dit is ingespan om die oorhoofse liggies en versieringe aan te bring.
Vanjaar is die 23ste keer dat dié liggies aangeskakel word, en die meerderheid van die straat se inwoners is daarby betrokke. Dis op 'n vrywillige basis en elke inwoner is verantwoordelik vir sy/haar eie elektrisiteitsrekening. Vanjaar is die nabygeleë Spruitstraat ook betrokke.
Die Kersliggievieringe het gewoonlik ook 'n goeie doel en word met 'n saak van verdienste gekombineer. Dit was een jaar tevore opgedra aan een van die straat se geliefde jong inwoners, Jana Human. Jana het leukemie oorwin en is nou in remissie. Tien ander inwoners het ook kanker oorwin.
Vanjaar sal die besoekers aan Oewerstraat goedere soos dierekos en komberse vir die dierewelsynsinstansie, die People's Dispensary for Sick Animals (PDSA), kan skenk. 'n Spesiale houer sal elke aand daarvoor beskikbaar wees.
Benewens die Kersliggies is daar ook ander aktiwiteite op die Oewerstraat-kalender. Op 15 Desember sal die lede van die Steelwings Harley-klub op hul ysterperde 'n uitrytog vir hondewelsyn doen en deur die straat ry.
Die feesvieringe bereik op 19 Desember 'n hoogtepunt wanneer mense in diere-kostuums te siene sal wees. Op 16, 20, 22 en 23 Desember sal Kersvader en die Grinch 'n draai maak.
Almal is welkom - van oud tot jonk. Dis is gratis en besoekers kan vrywilliglik skenkings aan die PDSA maak.
Besoekers word aangeraai om die eerste indraai van Oewerstraat aan die westekant te gebruik om verkeersvloei te vergemaklik en vir die voetgangers se veiligheid. Dit is 'n perdeskoenvormige straat wat weer by St. Pauls aansluit. Indien jy nie wil deurry nie, kan jy in 'n nabygeleë straat parkeer en oorstap.
Die inwoners hou graag elke jaar die liggies aan, want dit is 'n geleentheid om iets in die gemeenskap terug te ploeg. "Dit bring ook die herinneringe van kindwees weer terug na die mense," sê die organiseerders.
Die geskiedenis van Oewerstraat se liggies
Die liggies kom 'n lang pad en het aanvanklik klein begin. Niel du Plessis, 'n inwoner, het die eerste keer in 2002 liggies aangebring. Sy pa-hulle het destyds toe hulle na Brenton-on-Sea by Knysna verhuis het, vir hom die liggies gegee.
Van die ander mense in die straat het dit raakgesien en ook liggies begin aanbring. Aanvanklik was alles op kleinskaal, maar dit het deur die jare uitgebrei tot wat dit vandag is.
Oewerstraat se liggies is elke jaar ’n treffer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’