Gallery
GEORGE NUUS - Ofskoon oorwegend positiewe reaksie ontvang is oor die voorgenome vestiging van 'n nuwe moderne winkelsentrum van meer as R100 miljoen in Pacaltsdorp, is daar ook vrae en voorbehoude.
Daar is al lankal sprake dat die sentrum gebou gaan word en verlede Donderdag is dit amptelik tydens 'n sooispitseremonie bekendgestel. Tot kort voor die seremonie was daar vrae of alles in plek is.
Die geleentheid is bygewoon deur onder meer George-burgemeester, Melvin Naik, stadsraadslede, munisipale amptenare, kerk-, sake- en gemeenskapsleiers en ook die ontwikkelaars. Tydens die geleentheid het meer besonderhede oor die sentrum bekend geword.
Dit het geblyk dat die voorbereiding van die terrein op die hoek van Beach- en Olympicweg reeds begin het. Na verwagting sal bouwerk binnekort in alle erns begin.
Die plan is om dit amptelik op 31 Oktober 2020 te open en die totale oppervlakte sal 9 000m² beslaan. Na verwagting sal daar meer as 30 winkels wees waaronder bekende kleinhandelsgroepe en plaaslike sakeondernemings. Die konstruksiekoste sal tussen R110 en R120 miljoen beloop. By voltooiing sal dit sowat R150 miljoen werd wees.
Van die aanwesiges wou tydens die geleentheid van die ontwikkelaars weet watter sosiale verantwoordelikheid hulle in plek het met die projek en hoeveel werksgeleenthede geskep gaan word.
Die ontwikkelaars saam met Melvin Naik, George se burgemeester. Peet Erasmus (links), Johnny Faurie, Naik, Lawrence Bird en Gustav Gouws. Foto: Eugene Gunning
Lawrence Bird, een van die ontwikkelaars, het gesê dit is 'n baie groot eer en voorreg om betrokke te kan wees. Die ontwikkelaars is van voorneme om 'n sentrum te bou wat sag is op die oog en waar gemeenskappe bymekaar kan kom. Dis die gemeenskap se sentrum.
Past. Jannie Horn, kerk- en gemeenskapsleier, het gesê dit is belangrik dat die gemeenskap van die begin inkoop in die projek.
Naik het aan die George Herald gesê daar is nog 'n aantal "administratiewe aangeleenthede" wat aandag moet kry. Hy het die hoop uitgespreek dat dit binnekort opgelos sal wees.
Johnny Faurie, een van die ontwikkelaars, het gesê in die konstruksiefase sal byna 300 mense betrokke wees. Uiteindelik sal tussen 150 en 250 werksgeleenthede geskep word. Dit kan selfs tot 300 styg. Die ontwikkelaars, African Renaissance, is verbind tot die oprigting van die sentrum.
'n Argitekvoorstelling van die nuwe winkelsentrum in Pacaltsdorp.
Reaksie van gemeenskapsleiers
Isaac Felix, 'n gemeenskapsleier, het gesê dis 'n baie goeie inisiatief. Baie moet nog gebeur en die administratiewe rompslomp sal seker nog opgeklaar word. Inwoners gaan daarby baat vind. Dit is wel baie belangrik dat hulle "saamgeneem" word in die projek.
Luwayda Trantraal, voorsitter van die Pacaltsdorp-gemeenskapsakekamer, het gesê sy verwelkom die projek, maar wil weet waar pas klein sakeondernemings in.
"Klein sakeondernemings is nodig om die ekonomie te steun. Die groot sakeondernemings is nodig, maar dis veral die klein ondernemings wat 'n ekonomiese inspuiting gee."
Sy het gevra dat dit meer bekostigbaar moet wees vir klein sakeondernemings om sake te kan doen. Klein sakeondernemings skep werk.
Virgill Gericke, stadsraadslid en inwoner, het gesê hy verwelkom die projek. Dit is baie belangrik dat die gemeenskap betrek word. Die ontwikkelaars moet 'n bydrae lewer tot die opbou van die gemeenskap. Die gemeenskap moet 'n strategiese vennoot word.
"Ek doen 'n beroep op die gemeenskapsleiers om seker te maak dat die belange van die gemeenskap prioriteit word. Dit sluit werkskepping en bemagtiging in."
'n Argiteksvoorstelling van die nuwe winkelsentrum in Pacaltsdorp.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'