GEORGE NUUS - SA for Hope se voorbereidings vir hulpverlening aan Rooiheuwel en Kleynspoort in die Klein-Karoo komende Saterdag, 7 Mei, het goed gevorder.
Volgens 'n direkteur van die organisasie, Pieter du Plessis, het hulle teen Dinsdag reeds bykans 30 voertuie gehad wat gereed staan om Saterdagoggend met al die skenkings te vertrek.
"Ons het kruidenierswarepakkies, blikkies sop en kos, mieliemeel, gebottelde water en voer vir die vee, asook lekker bederfboksies vir die dames van die boere en hul werkers om Moedersdag 'n bietjie spesiaal te maak. Om 'n goeie impak te maak, benodig ons nog redelik kontant. Ons kort ook nog vars vrugte en groente en voer."
Mense wat nog 'n bederfboksie vir 'n vrou wil opmaak, kan SA for Hope kontak om dit op te tel. Die uitreik gaan ook vir die Rooiheuwel-skooltjie kos, klere asook boumateriaal optel vir 'n afdak waar die kinders kan sit en eet.
Heatherpark Super Spar het skoolskoene vir die leerders geskenk.
Die skooltjie gee skool en kos aan plaaswerkers se kinders in die omgewing.
"Die Rooiheuwel- en Kleynspoort-area is een van die gebiede wat die swaarste getref is deur die droogte. Volgens die boere daar het hulle net genoeg reën gehad om die veld mooi te maak," sê Du Plessis.
Die boere kan nie hulle eie lusern produseer nie weens die tekort aan water. Sommige boere gebruik geen plaaswerkers meer nie of net met tye wat hulle nie self kan werk nie. "Die werkers woon nog op die plaas, maar het baie min of geen inkomste nie."
Enigiemand wat betrokke wil raak, kan Du Plessis kontak by 076 844 6435. Besoek ook SA for Hope se Facebook-blad.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'