SUID-KAAP NUUS - Met die rugbykampioenskap, wat die afgelope naweek tussen die Springbokke, All Blacks, Wallabies en die Pumas in Australië (Brisbane) en Nieu-Seeland (Wellington) afgeskop het, is vier reëlvariasies ingebring om in dié Suidelike Halfrond-kompetisie te toets. As dit 'n sukses is, sal dit verder uitgebrei word sodat dit in alle kompetisies van krag is.
Die variasies en aanpassings op dié reëls het klaarblyklik heel goed vir die Bokke én Los Pumas geëindig. Nie so goed vir die Bledisloebeker-spanne van Australasië nie.
Die Bokke het die Aussies met 33 - 7 uitoorlê terwyl die manne van die rollende pampasvlaktes die All Blacks ongekend met 38 - 30 ore aangesit het. Die hoogste telling in die geskiedenis teen die Kiwi's op een van hul tuisvelde.
Die doel met betrekking tot dié reëlvariasies is veral daarop gemik om 'n einde te bring aan onnodige tydvermorsing by skrums en lynstane, om 'n meer regverdige bestel met die rooikaart-sisteem te bewerkstellig, beter beskerming aan die skrumskakel te bied en ook om die spel te laat voortvloei selfs al word die bal skeef by 'n lynstaan ingegooi.
Baie van die variasies op die reëls is lankal reeds bepleit, maar die Internasionale Rugbyraad (IR) het tot dusver in gebreke gebly om daaraan aandag te skenk.
"Sagte" of 'n "harde" rooi kaart
Wat die reël ten opsigte van 'n rooi kaart betref, is dit 'n stap in die regte rigting dat 'n speler vervang kan word ná 20 minute. Daar is egter steeds voorbehoude. Wanneer 'n speler wel vervang kan word, sal dit alleenlik geld waar dit bevind is die oortreding was nie met opset óf dat daar 'n groot mate van gevaar aan verbonde was.
Kom ons noem dit 'n "harde" rooi kaart. Word daar bevind dat dié twee aspekte wel 'n rol speel, word die status quo behou en sal die speler nie vervang word nie.
Indien versagtende omstandighede - kom ons noem dit 'n "sagte" rooi kaart - wel ter sprake kom, is die span wie se speler in die koelkas is met 'n rooi kaart, nie weer daarop geregtig om na die speelveld terug te keer soos in die geval van 'n geel kaart nie.
Dié speler kan dan vervang word met iemand van die plaasvervangerbank, wat 'n stap in die regte rigting is omdat die IR "redeneer" dis die individu wat gestraf moet word. Asof dié redenasie nie al vir jare ter sprake is nie. Die span in sy geheel, of die betrokke wedstryd, mag nie gepenaliseer word nie.
Nou sal 'n mens graag wil weet hoe daar verder opgetree sal word met die outomatiese verhore waaraan spelers onderhewig is wanneer hulle wel van die veld met 'n rooi kaart gestuur word.
Sal daar onderskeid getref word met die uitdeling van strawwe (gewoonlik 'n skorsing van 'n aantal wedstryde en soms "heropleiding" met verdediging onder andere) waar dit 'n "sagte" of 'n "harde" rooi kaart behels? Hier gaan nog baie kop gestamp word omdat die interpretasie deur individue, wat die finale beslissings fel, verskillend sal wees.
30 sekondes vir skrums en lynstane
Wat die tydskedule by skrums en lynstane betref, is dit verseker 'n stap in die regte rigting. Te veel kere vermors spanne onnodig tyd en om verskeie redes. Nou sal spanne nie meer daarop kan staat maak om die spel te vertraag omdat daar 'n teenreaksie op 'n negatiewe reaksie is.
Voortaan moet 'n skrum binne 30 sekondes ná die skeidsregter die merk aangedui het, gevorm word sodat spel kan voortgaan. 'n Vryskop sal toegeken word teen die span wat onnodig tyd vermors.
By lynstane sal dieselfde 30 sekondes-reël geld. Sodra die plek deur die lynregter aangedui en erken is deur die skeidsregter met sy fluitjie, móét die lynstaan ook binne dié periode van 30 sekondes weer deel van die spel wees anders sal 'n vryskop op die 15m-lyn teen die span, wat tyd verspeel, toegeken word.
Verby is die tyd dus waar daai moeë voorryman sy stewel van vooraf moet "aantrek" om sy asem terug te kry omdat tyd nie meer mag verspeel word nie. En daai lot voorspelers wat omtrent 'n langnaweek vat om die lynstaan te vorm deur van die kwartlyn tot op die halflyn aangedrentel te kom, se draadjies is ook nou geknip.
'n Baie goeie innovasie waar vermorste tyd nie meer gebruik kan word tot nadeel van die opponent nie.
60 sekondes om te skop
Die instel van situasies op die veld waar tyd ingespan word om nie die horlosie te misbruik, is reeds met vrug ingestel waar dit die skopwerk pale toe betref.
Die skopper word nou tot 60 sekondes beperk om die nodige punte (doel- of strafskop) op die telbord te kry.
Word dié tyd oorskry, word dit gekanselleer en sal die ander span die voordeel kry. Iemand soos die All Black-losskakel, Damian McKenzie, het dit 'n paar weke gelede op die harde manier uitgevind toe 'n skop van hom gekanselleer is omdat te veel tierlantyntjies sy minuutglas leeggeloop het. Hy was gelukkig omdat dié skop op die ou einde nie die uitslag bepaal het nie, maar dit kon netsowel in dié toets teen Engeland, wat die Kiwi's naelskraap met 16 - 14 gewen het.
Skewe ingooi
Die interessantste een van dié variasies is die "skewe" ingooi by die lynstane. Volgens die reëls moet 'n bal by 'n lynstaan reguit ingegooi word om beide die spanne die geleentheid te gee om daarom mee te ding.
Waar die skeidsregter egter altyd in die verlede dadelik sy fluitjie skril laat hoor het wanneer 'n bal skeef ingegooi is, sal hy nou kan asem skep as die opponerende span nie meeding in die lynstaan nie. Dan kan die bal maar skeef ingegooi word en die spel kan aangaan!
Ding die opponerende span egter mee sodra die springers opgetel word, sal 'n skewe ingooi steeds op dieselfde manier hanteer word soos in die verlede waar die oortredende span gestraf sal word.
Skrumskakel
Die vierde variasie op die bestaande reëls waar die skrumskakel beter beskerming gebied word, sal verseker ook baie fyn onder 'n vergrootglas geplaas word. Daar is reeds verskeie beperkings op die nommer-9 speler wat in plek is, maar die belangrikste met die "nuwe" variasies is dat hy nie by die bek van die skrum kan verby beweeg wanneer die enjinkamers besig is mekaar op te dreun nie.
Dié een is egter vaag en maak nie heeltemal sin nie omdat druk nou in 'n groot mate van die opponent gehaal word. Hier gaan nog baie dinkwerk moet plaasvind om by die regte formule uit te kom en dan wonder 'n mens wanneer gaan die reël aangespreek word met 'n skrumskakel wat die bal basies by 'n skrum amper onder die agtsteman se voete ingooi waar dit eintlik reguit by 'n skrum gedoen moet word en 'n haker moet doen waarvoor hy daar is. Of is die hakers se primêre taak deesdae net om by lynstane die bal in te gooi?
Haak word daar lankal nie meer gehaak nie!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’