GEORGE NUUS - Die pot het vanoggend, 20 Januarie, behoorlik oorgekook toe pendelaars in Proteastraat naby Laerskool New Dawn Park Go George-busse verhinder het om verder te ry in 'n poging om aandag te trek na die toenemende probleem van oorvol busse en die impak daarvan op die gemeenskap.
'n Groepie inwoners en pendelaars het die verkeer vroegoggend vir 'n tydtjie lamgelê.
Hierdie aksie volg op groeiende frustrasie onder inwoners van New Dawn Park wat gereeld lank moet wag vir busse wat reeds vol is teen die tyd dat hulle die woonbuurt bereik.
Leerders wat in die dorp skoolgaan, en werkendes wat betyds wil wees, word gereeld hierdeur benadeel.
"Genoeg is genoeg, ons klagtes kan nie jare steeds op dowe ore val nie. Ons het al vir die kleiner bussies gevra om die mense nader na die busstoppe te bring op hoofroetes, veral die ouer mense wat ver moet loop na hulle huise. Maar dit is asof hulle ons nie hoor nie," sê 'n inwoner.
Die probleem het vanoggend verder geëskaleer toe padwerke op twee van die hoofingangsroetes na Pacaltsdorp begin het. Eenrigtingverkeer geld vir gedeeltes van Missionstraat en Heatherstraat in Harmony Park. Inwoners kan tans slegs via Mission-, Kerk-, en Noordstraat na die hoofpad, Beachweg, uitry.
Met die eenrigtingroetes blyk dit dat busse vinniger vol raak want pendelaars aan weerskante van die pad klim nou op een plek op. Konstruksie is ook aan die gang in Proteastraat, waar daar ook 'n gedeelte eenrigtingverkeer is.
Die afgelope paar jaar was daar 'n merkbare toename in verkeersvolume vanuit Pacaltsdorp, wat slegs een in- en uitgang het via Beachweg oor die N2-brug.
Hoewel dié pad in 2014 met dubbelbane in beide rigtings verbreed is, het nuwe ontwikkelings in gebiede soos Rosedale en Hansmoeskraal die verkeersvoordeel vinnig uitgewis.
Beachweg meer as 10 jaar gelede (Augustus 2014) toe die pad verbreed is. Foto: Michelle Pienaar
Die situasie in New Dawn Park word verder bemoeilik deur pendelaars van ander dele van Pacaltsdorp wat die busse volmaak voordat hulle die buurt bereik. Inwoners sê ook dat inwoners van Thembalethu deur die kloof stap om in die Pacaltsdorp-busse te kry. Hierdie praktyk dra by tot die oorvol busse en die lang wagperiodes vir pendelaars van New Dawn Park.
Die groeiende verkeersdruk, gekombineer met die heropening van skole en die terugkeer van werkendes ná die vakansie, het 'n “perfekte storm” geskep.
Vanoggend het verkeersbeamptes, ’n plaaslike raadslid, Theresa Jeyi, en ander rolspelers met pendelaars en inwoners vergader om ’n oplossing vir die probleem te vind.
Go George het by navraag gesê die padwerke in Pacaltsdorp het hierdie week ’n volgende fase bereik, met Roete 1A na New Dawn Park wat nou ook herlei word om Pacaltsdorp via Heatherstraat binne te gaan. Dit volg nadat Missionstraat vir die volgende 18 tot 20 maande ’n eenrigtingstraat gemaak is.
"Go George-dienste kan vertraag word weens die padwerke en gepaardgaande verkeersopeenhopings. Verder kan daar ook moontlike kapasiteitsprobleme wees as gevolg van die veranderinge in passasiers se reispatrone.
"Omdat ongerief voorsien is, het die kommunikasiespan van Go George reeds verlede week en oor die naweek met besighede en passasiers begin gesels om hulle voor te berei op die impak en om alternatiewe roetes of vroeër vertrektye aan te beveel. Kennisgewings is ook elektronies en deur die media uitgestuur.
"Go George het vertragings as gevolg van die padwerke voorsien en verwag dat passasiers se reistyd sou toeneem. Drie bykomende busse is by hierdie roete gevoeg om die impak te help verlig.
"Ongelukkig, aangesien dit die eerste dag van die herleiding van Roete 1A was, was die busse voller as gewoonlik. Dit het frustrasie by passasiers veroorsaak, wat die pad by die Sierrissie-bushalte versper het. Dit het ongelukkig die verkeersopeenhoping vererger en alle oorblywende ritte vertraag.
"Toe die ongelukkige passasiers uiteindelik uiteen gaan, kon die busse hul diens voortsit en was daar genoeg kapasiteit om aan die behoeftes te voldoen."
Hulle sê sedert die begin van die uitgebreide opgraderings aan die paaie doen die busdiens alles moontlik om aan te pas om die impak en ongerief vir passasiers te beperk. "Spesiale maatreëls is ingestel, soos die toevoeging van busse op Roete 1A tydens die oggendspitstyd, wat die tussenposes tussen aankomste van 15 minute tot 8 minute verkort het. In die middedorp word Roete 1A nou in die teenoorgestelde rigting rondom Mark-, Memoriam-, Courtenay- en Yorkstraat herlei om opeenhopings te voorkom."
Morné Lakay, Go George-bestuurder, sê hulle monitor die situasie deurlopend en sal aanpassings aanbring waar moontlik.
"Die vergadering waarna verwys word, was deel van die daaglikse monitering en terugvoer. Moniteringsbeamptes sal daagliks vroeg op die roete wees om terugvoer te verskaf," sê Lakay.
Hy moedig passasiers aan om, waar moontlik, vroeër busse te neem. “Ons vra passasiers om hul reisskedule werk toe of skool toe aan te pas terwyl die opgraderings aan die gang is.
"Dit gaan ’n uitdaging wees vir alle padgebruikers, insluitend buspassasiers. Besighede kan ons ook help deur begin-tye te versprei sodat passasiers die spitstyd tussen vroeë en latere busse kan versprei. Ons vertrou passasiers sal binnekort agterkom watter tyd en busstop die beste by hul individuele behoeftes pas. Intussen, aangesien hierdie situasie buite ons beheer is en tot voordeel van Pacaltsdorp se inwoners is, laat ons geduldig en verdraagsaam wees en dit saam aanpak,” het Lakay versoek.
Vir ondersteuning, skakel die Go George-inbelsentrum by 0800 044 044 van 05:00 tot 20:00 daagliks.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’