GEORGE NUUS - Byna nege jaar nadat die eerste vier roetes met 'n vloot van 12 busse na Rosemoor, Denneoord, Loeriepark en die Garden Route Mall uitgerol is, vervoer die Go George-busdiens nou 18 956 passasiers (soos aan die einde van Augustus) per weeksdag met 'n vloot van 133 busse.
Dit is 3 000 meer daaglikse passasiers as dieselfde tyd verlede jaar.
Statistieke vertel die storie
Oor die afgelope jaar, van September 2022 tot Augustus 2023, het Go George-busse 5 383 662 passasiers vervoer - 'n toename van byna een miljoen passasiers die afgelope jaar.
Die Go George-vloot het in Desember 2014 met 12 busse begin en bestaan tans uit 65 standaardbusse, 33 midibusse en 35 minibusse. Dit sluit busse in wat aangeskaf is vir die uitrol na Thembalethu wat in die proses van finalisering is.
Die padnetwerkdekking op die huidige 33 roetes is 142 km, met die uitbreiding na Thembalethu wat nog 30 km byvoeg. Dit is die totale afstand van die paaie waarop Go George-busse ry.
Padopgraderings word deurlopend op paaie regoor die dorp gedoen soos befondsing dit toelaat. Dit sluit paaie in wat tans gebruik word om die openbare vervoerdiens te lewer, asook paaie wat in die toekoms vir die diens benodig sal word.
Terwyl Nasionale Vervoermaand in Oktober gevier word, het Go George se waarnemende bestuurder, Morné Lakay, sy dankbaarheid uitgespreek vir die positiewe resultate wat deur die jongste statistieke weerspieël word.
"Dit is duidelik dat die gemeenskap baat by die geskeduleerde openbare vervoerdiens en toenemend hierdie gerieflike en bekostigbare vervoer gebruik om werk toe en skool toe te ry, en waarheen hulle ook al moet gaan," het hy gesê.
"Ons evalueer voortdurend terugvoer van ons passasiers om die diens te bly verbeter, en natuurlik moet ons ook tred hou met ontwikkeling regoor die dorp - of dit nou nuwe nodusse van sakebedrywighede of residensiële uitbreiding is. Ons mandaat is om die George-gemeenskap van 'n eersteklas openbare vervoerdiens te voorsien wat betroubaar, bekostigbaar, veilig, gerieflik en toeganklik is, en bydra tot 'n beter lewensgehalte vir almal, en dit is presies wat ons streef om te doen."
Vervoermaandaktiwiteite
Go George beplan opwindende aktiwiteite om verskeie aspekte van die busdiens gedurende Vervoermaand uit te lig. Dit sluit in 'n buitelugradio-uitsending by die vervoerkern in Cradockstraat (Transport Hub), skoolbesoeke met 'n dramagroep en verrassingspakkies wat op lukraak geselekteerde busse uitgedeel sal word.
Vir enige inligting oor die busdiens soos roetes en roosters, of waar om 'n slimkaart en ritte te koop, kan die Go George-inbelsentrum van 05:00 tot 20:00, sewe dae per week, op die tolvrye nommer 0800 044 044 geskakel word.
Die webwerf bied gedetailleerde inligting, insluitend aflaaibare roosters en roetekaarte, terwyl die Go George Facebook-blad onmiddellike dienskennisgewings en handige wenke oor die gebruik van die diens verskaf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’