GEORGE NUUS - Die George-hospitaal se onlangse beroep op die publiek vir tuisgemaakte lapmaskers het 'n ywerige reaksie onder naaldwerksters van George en Wilderness ontlok. 'n Totaal van meer as 2 500 maskers is al vir die George-hospitaal gemaak.
Nadia Ferreira, distrikswoordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid, sê nog baie meer word benodig en hulle hoop om 'n bykomende 1 000 maskers teen die einde van die week te ontvang. Ongeveer 50 vrywilligers het al bydraes gemaak.
'n Groep van 25 inwoners van Groenkloof-aftreeoord wat ook lapmaskers vir die hospitaal maak, het aangegroei tot 34. Volgens hul koördineerder, Cheryl van Zyl, het hulle al meer as 1 100 maskers gemaak waarvan 900 vir die hospitaal geskenk en 'n aantal verkoop is om benodigdhede te kon aankoop sodat vervaardiging vir die hospitaal kan voortgaan.
Die maskers word uitgehandig onder pasiënte in die hospitaal en besoekers. Personeel kry ook lapmaskers om te dra wanneer hulle uitgaan om inkopies te doen. Dit bespaar op chirurgiese maskers waaraan daar 'n skaarste is en wat gehou word vir gebruik deur gesondheidswerkers in die hospitaal wat die hoogste risiko het om met die koronavirus besmet te raak. Van die maskers is ook vir die mense in die nagskuiling geskenk.
Ferreira sê die hospitaal se departement vir arbeids- en spraakterapie is baie dankbaar oor die donasies. "Dankie aan almal wat skenkings gegee het om die maskers te kon maak asook die wat die arbeid ingesit het.
"Die Wes-Kaapse regering ondersteun die dra van 'n materiaalmasker indien dit met die nodige voorsorg gedra en gewas word. Onthou egter dat 'n goeie lapmasker nie die vyf goue reëls van goeie higiëne vervang nie. Dit kan wel ekstra beskerming bied as dit goed vervaardig is en reg gebruik word."
Die George-hospitaal is dankbaar oor die lapmaskers wat vrywilligers in George en Wilderness vir hulle vervaardig.
Die 5 goue reëls:
1. Was jou hande gereeld vir ten minste 20 sekondes met seep en water.
2. Moenie aan jou gesig raak sonder om eers jou hande te was nie.
3. Hoes of nies of in 'n sneesdoekie of in jou elmboog. Gooi dan die sneesdoekie weg op 'n veilige manier.
4. Bly ten minste 1,5 meter weg van ander mense.
5. Bly by die huis as jy nie lekker voel nie. Kontak dan ook die hulplyn of jou gesondheidswerker.
'n Lapmasker moet dadelik met seep en water gewas word wanneer jy tuiskom nadat jy uit was. Moet nooit aan die masker vat terwyl jy dit dra nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'