GEORGE NUUS - 'n Ma se pleidooi op die Facebook-groep, George Snuffelgids, verlede naweek het aandag getrek. Colleen Lamprecht het finansiële hulp nodig om haar seun, wat die afgelope ses jaar in Bellville woon, te begrawe.
Wicus van Niekerk (30) is op 4 Julie, op straat met 'n mes gesteek en het aan sy wonde beswyk. "Hy is doodgesteek vir 'n sambreel wat hy by hom gedra het," vertel Colleen.
"Wicus was 'n straatkind, en verslaaf aan heroïen. Ek het hom ses jaar gelede gesien toe hy hier weg is om weer op straat in Bellville te woon.
"Ongelukkig het my kind soveel verkeerde keuses in die lewe gemaak, maar hy was 'n dierbare seun, saggeaard en baie nederig. Hy sou die bietjie wat hy het, vir iemand anders in nood gee."
Colleen se wens is om haar seun te veras, en dit kan wel gebeur met die hulp van 'n onderneming in Bellville. Sy kort nog R8 000 om die bedrag te vereffen. 'n Back-A-Buddy-rekening, Wicus van Niekerk, is gestig waar mense 'n donasie kan gee.
Wicus sou op 13 Augustus vanjaar sy 31ste verjaarsdag vier.
Hy was al die jare 'n boorling van George en het skool gegaan by PW Botha Kollege, deesdae bekend as Hoër Tegniese Skool Eden.
Wicus het skool verlaat as gr. 10-leerder en by 'n onderneming in George begin werk.
"Hy was egter telkemale opgeneem in rehabilitasiesentrums, waar hy nooit lank genoeg gebly het nie," sê Colleen. "Sy moeilikheid met dwelms het in gr. 8 begin, en dit het erger geraak."
Volgens Colleen het hy begin met dagga, en later tik en heroïen gebruik. "Ek is seker hy het ook toekomsdrome gehad," sê Colleen. Kontak Colleen by 074 113 7204.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’