GEORGE NUUS - Wat begin het as 'n eenvoudige daad van hulp, het binne ure in iets veel groter vir Lenore Collett van George ontaard.
Vandag is sy 'n aktiewe lid van Search and Rescue South Africa (Sarza), iets wat sy nooit sou kon voorspel toe sy op 7 Mei 2024 by Soteria-gemeente ingestap het nie.
Dit was die dag ná die Neo Victoria-woonstelblok in Victoriastraat inmekaar gestort het. Collett het bloot 'n donasie gaan afgee, sonder enige plan om langer te bly. Maar toe iemand haar vra om eerder daardie aand te kom help om kos vir die reddingswerkers te maak, het sy ingestem.
"Ek het 22:00 daardie aand opgedaag, toe vra hulle of ek nie sommer op die toneel self wil gaan help nie. En toe begin my 10 dae op die plek van die tragedie," vertel sy.
Wat as een nagskof begin het, het vinnig 'n baie groter rol geword. In daardie nagte het sy vir die eerste keer die Sarza-span raakgesien.
"Ek was dadelik gefassineer. Hulle het uitgestaan - nie net met hulle uniforms nie, maar met die manier waarop hulle werk. Hulle vaardigheid, toewyding en diensbaarheid was iets om te aanskou. Toe weet ek: ek wil deel van dít wees."
'n Maand later het sy vir Mike Muller, voorsitter van Sarza Wes-Kaap, gekontak om uit te vind hoe om aan te sluit. Sedertdien is sy deel van die span.
"Ek het nog nie vir een oomblik spyt gehad nie. Jy word deel van 'n familie - mense wat werklik passievol is daaroor om 'n verskil te maak."
Die gebeure by Neo Victoria het nie net Collett se lewe verander nie. Dit het ook gelei tot 'n oplewing in belangstelling in Sarza in die Tuinroete-gebied. Nuwe lede het aangesluit, en vandag is daar 'n plaaslike eenheid in wording onder Sarza Wes-Kaap. Skakel 072 603 6591 om deel te word.
"Ons bou stadig maar seker aan 'n span wat gereed is om op te tree as iets gebeur," sê Collett.
Collett se storie is een van diensbaarheid en samehorigheid, en een wat begin het met net 'n bord kos.
Belangstellendes wat graag betrokke wil raak by Sarza, kan hul webblad besoek by sarza.org.za, of kontak maak by 072 603 6591 of info@wc.sarza.org.za
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’