GEORGE NUUS - Nasionale Waterweek is van 15 tot 22 Maart in George gevier deur 'n besoek van die provinsiale departement van water en sanitasie aan vier skole waaronder Hibernia, Heidedal en Rosemoor Primêre skole. Die besoek is Vrydagoggend by Pacaltsdorp Primêr afgesluit.
Charles Carelse, 'n oudonderwyser wat voorheen by die Global Learning-program betrokke was, het Elaine Ontong van die departement voorgestel aan die onderwysers wat die projek by hul onderskeie skole gedryf het.
Ontong sê hulle besoek al amper 'n dekade die area en gesels met kinders oor water en waterbesparing.
Sy en haar span, Bongolethu Antoni, Ziyanda Ncoko Hani en Margo Adonis wie se inisiatief dit was om ’n boekie, My water kennis, saam te stel, het vir elke kind 'n boekie gegee met kennis oor waterbesparing, die behandeling daarvan, die verkillende waterbronne, gryswater en waarvoor dit gebruik kan word asook wat jy by die huis kan doen om water te bespaar.
Die span se besoek aan Heidedal Primêr gedurende Nasionale Waterweek.
Ontong sê jy hoef nie meer grootmense te leer hoe om water te bespaar nie, dis hoekom hulle met kinders so jonk as gr. 5 begin, wat dan die kennis kan oordra, nie net aan hul maatjies nie, maar ook by die huis.
"Die volgende oorlog gaan oor water wees. As jy nie water respekteer nie, gaan water jou nie respekteer nie," sê Ontong.
Die boekie is uitgereik deur die provinsiale departement water en sanitasie.
Daar is voorheen 'n kompetisie vir skole gehou, maar as gevolg van Covid-19, kon hulle dit nie verlede jaar hou nie en dinge is baie onseker oor die toekoms.
As deel van die Jeug- en Waterkonferensie kry leerders die geleentheid om in enige kunsvorm bewusmaking, bewaring, gesondheid en higiëne asook kulturele diversiteit van water uit te beeld. Leerders kan plakkate, tradisionele danse, musiek, drama, poësie asook lofsang gebruik om waterbewusmaking uit te beeld.
Charles Carelse hoop dat meer skole vorentoe betrokke sal raak.
Charles Carelse gesels met leerders by Pacaltsdorp Primêr oor die goeie gebruik van water.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'