GEORGE NUUS - Marelize Earle, voormalige Mev. Suid-Afrika en inwoner van George vir die afgelope 22 jaar, verteenwoordig Suid-Afrika van 17 tot 22 Junie by die Mrs Classique Globe-kompetisie in Palm Springs, Kalifornië.
Sy is in November as die Suid-Afrikaanse wenner aangewys en is tans besig met haar laaste voorbereidings.
Mrs Classique Globe is 'n bemagtigingsprogram onder die vaandel van die WIN Foundation en nie 'n tradisionele skoonheidskompetisie nie. Dit fokus op die opheffing van vroue wêreldwyd. Enige vrou ouer as 45 wat reeds aan Mev. SA deelgeneem het, kon inskryf.
Earle, wat haar eie velsorgkliniek bestuur, was in 2002 Mev. Suid-Afrika en in dieselfde jaar het sy as tweede prinses geëindig by die Mrs Universe-kompetisie. Sy het nooit weer beplan om deel te neem nie.
Sy is die afgelope sewe jaar 'n beoordelaar vir Mev. Suid-Afrika, wat die lisensie besit vir die Mrs Globe-kompetisies, en die afgelope drie jaar het sy as 'n mentor opgetree vir semifinaliste en finaliste.
"Met verlede jaar se halfeindstryd het drie van die vroue wat ek mentor, my uitgedaag om in te skryf. Hulle het gesê dis makliker om te sê as om te doen! En nou vlieg ek oor drie weke vir die Mrs CG. Dit was sewe maande van voorberei, borge soek, klerebeplanning, oefen, grooming en poog om my beste self te wees," vertel sy.
Ontwerper Werner Dey borg en maak die meeste van haar uitrustings, maar sy en haar man dra steeds die grootste deel van die koste self. Die swak wisselkoers maak internasionale deelname uiters duur.
Earle is vasbeslote om die Mrs Globe-platform in Suid-Afrika meer sigbaar te maak en plaaslike projekte soos Wild Mongoo, wat werk met vroue in nood, te ondersteun.
Sy het 'n Back-a-Buddy-fonds begin en is besig met 'n lootjiekompetisie om geld in te samel vir haar deelname.
Daarbenewens kan mense vir haar stem op die Mrs Globe-webwerf teen $10 per stem. Elke stem borg 'n vrou se deelname aan die WIN Foundation se Reclaiming Me-program.
Earle se loopbaan as model, skoonheidsdeskundige en TV-aanbieder strek oor 40 jaar. Sy beskik oor 'n graad in politieke wetenskap en kommunikasie en het 'n paar jaar gelede ook 'n graad in somatologie cum laude verwerf.
"Ek glo in vrouebemagtiging en wil nou, in hierdie teruggee-fase van my lewe, ander help om hul drome te bereik. Ek glo Mrs Classique Globe is 'n ongelooflike platform wat my hiermee sal help."
Sy hoop om George en Suid-Afrika trots te maak: "Ons is 'n sterk volk wat altyd 'n plan maak wanneer ons moet. Ek wil wys wat moontlik is as 'n vrou in haarself glo."
Om vir Earle te stem, klik hier en om 'n donasie te maak in haar Back-a-Buddy-fonds, klik hier.
Borge kan haar ook kontak by marelize@earp.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’