GEORGE NUUS - Gesinspret is op die kaarte vir ondersteuners van Sanca (South African National Council on Alcoholism and Drug Dependence) Garden Route, met ’n potjiekoskompetisie Saterdag 29 Maart by Marshmallow Garden Café (op die lughawepad).
Die geleentheid vind plaas vanaf 08:00 tot 15:00 en dien as ’n fondsinsamelingsgeleentheid vir Sanca.
“Met die tema, Gesinspret, wil ons die belangrikheid van kwaliteit gesinstyd in die herstelproses van middelmisbruik en afhanklikheid beklemtoon,” sê Denise de Beer, direkteur van Sanca.
Die potjiekoskompetisie is vir volwassenes, teen R250 per span (ongeveer vier persone).
’n Braaikompetisie word ook vir kinders tussen die ouderdom van 9 en 11 jaar gehou, teen R80 per kind. Kinders moet vergesel word deur hul ouers of voog. Bespreek ’n stalletjie teen R200 per stalletjie (geen koeldrank of gaar kos nie).
’n Springkasteel word opgeslaan vir die kinders en die potjiekos wat gemaak word, sal tydens die geleentheid verkoop word.
Beperkte plekke is beskikbaar, so bevestig eers ’n spasie voor enige betalings gedoen word.
Vir inskrywingsvorms en plekbesprekings kontak Alida Lubbe by 082 802 3287.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’