TUINROETE DISTRIKSNUUS - Ouma Lena se Huis, 'n nie-winsgewende organisasie in Melkhoutfontein, Stilbaai, het op Vrydag 14 Desember 'n reuse inspuiting gekry toe hulle 'n skenking van R150 000 ontvang het.
Dié meevaller is geskenk deur die Suid-Afrikaanse arm van Logwin Air & Ocean (Pty) Ltd, wat 190 takke wêreldwyd het.
Volgens Abrie Diener, takbestuurder van die Kaapstad-tak, is dit 'n inisiatief wat deur al hulle takke wêreldwyd gedoen word.
Die familiedag is die inisiatief van hul hoof- uitvoerende beampte in Duitsland, Dr. Antonius Wagner. "Die takke in elke land, waarvan ons vier in Suid-Afrika het, in Johannesburg, Durban, Port Elizabeth en Kaapstad, moes die geld insamel en dan een begunstigde kies aan wie dit geskenk moet word. My kollega Gys Hough en ek het Ouma Lena se Huis voorgestel omdat ek 'n oud-inwoner van Jongensfontein is en weet van die goeie werk wat daar verrig word. Dit is eenparig aanvaar deur die ander takke," het Diener verduidelik.
Jenny Olivier, 'n vrywilliger, het Diener bedank en gesê dat elkeen wat na dié huis kom, 'n liggie is wat aangeskakel word. Die uitvoerende burgemeester Grant Riddles het genoem dat die skenking nie net vir Ouma Lena se Huis nie, maar vir die hele Melkhoutfontein, en dat dit sy gemeenskap tot voordeel strek.
Vanjaar is die eerste keer dat die projek geloods is en hulle beoog om dit 'n jaarlikse instelling te maak.
n Ouma Lena se Huis is 'n nie-winsgewende organisasie van Badisa wat deur vrywilligers uit Stilbaai en Melkhoutfontein bedryf word om kinders in die gemeenskap te bemagtig en met lewensvaardighede toe te rus.
Van links is Jenny Olivier van Ouma Lena se Huis, Gys Hough (kwaliteitsbestuurder: Logwin), Abrie Diener en eregas Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van Hessequa-munisipaliteit. Foto's: Wilma Adamson
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'