Video
GEORGE NUUS - Die sestienjarige Liandri Lamprecht het die modewêreld se aandag getrek toe sy op 30 November in Peru as Miss Teen Grand gekroon is.
Na 'n warrelwindervaring is Liandri en haar ma, Lydia Lamprecht, terug in George. Hulle het Sondag 7 November in die Tuinroete geland.
Liandri se avontuur het op 22 November begin, toe sy na Johannesburg vertrek het vir die amptelike fotosessies vir World South African Pageants. Net voor middernag op 23 November het sy saam met KLM, die hoofborg, na Peru gevlieg. Eers was daar 'n vinnige stop in Amsterdam, toe 'n aand in Lima, en uiteindelik is sy na Chiclayo vir die kompetisie wat van 27 tot 30 November plaasgevind het.
Die eerste aand het Liandri by 'n stylvolle restaurant gaan eet waar deelnemers hul nasionale skouerbande ontvang het en 'n fotosessie met pienk swembroeke op die strand geniet het. Daar was selfs 'n modeparade vir 'n Peruaanse modehuis en die bekende handelsmerk, Reebok.
Haar nasionale kostuum, wat sy tydens die modeparade gedra het, is geïnspireer deur die Brenton Blue Butterfly - 'n skaars skoenlapperspesie wat net in Brenton on Sea in Knysna voorkom.
VIDEO - Liandri vertoon haar nasionale kostuum:
Suid-Afrika se ambassadeurs op pad na hul hotel vanaf die lughawe, voor die kompetisie: Joshua Jansen, Sharica Bondesio, Lesedi Molise, Liandri Lamprecht en Mhlengi Khuzwayo.
Op die laaste dag, 30 November, is Liandri tydens 'n spoggerige finalé gekroon waartydens sowat agt lande vir titels meegeding het.
Na die geleentheid het sy saam met haar ma na Lima gevlieg vir 'n paar dae se ontspanning in Mira Flores. Hulle het winkels besoek, 'n boottoer geniet, op sandduine rondgery en natuurlik 'n draai gemaak by die beroemde Victoria's Secret.
Die volgende oggend, na die kroning, met al haar regalia.
"Ons is baie moeg, maar ons harte is vol!" het Lydia gesê met hul terugkeer na George vandeesweek.
Liandri se voete is steeds stewig op die grond. Sy gaan voort met die insameling van sanitêre doekies en om jong meisies te inspireer. Dit is vir haar belangrik om meisies met hul selfbeeld te help en aan te moedig om hul drome te volg.
Sy doen gemeenskapswerk by 'n sopkombuis in Rheenendal en deel graag haar kennis en ervaring met ander voornemende modelle.
Amptelike fotosessie in Germiston by die lugvaartmuseum. Foto: Hannes Spookels
Tydens haar kroning in Peru.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’