GEORGE NUUS - Zhané Myners van Pacaltsdorp se reisigersbloed het haar in Engeland besorg, min wetend dat sy haar spreekwoordelike prins op 'n wit perd in dié verre land gaan ontmoet.
Lady Zhané Jhozé Shanice Myners en lord Charles Orr Pieter Thoden van Velzen vier op 23 Maart vanjaar hul eerste jaar as 'n getroude paartjie.
Die egpaar woon tans in Waltshire County, Cotswolds, in Suid-Wes Engeland. Charlie, soos Zhané haar man noem, is verbonde aan die Royal Airforce.
Hul liefdesverhaal is kompleet soos 'n storie uit 'n sprokiesboek.
Die titel van lord en lady is aan hulle toegeken nadat die egpaar eiendom in Hogun Manor, in Skotland, aangeskaf het.
Volgens Skotse tradisie is dit slegs afstammelinge van adel wat die reg het om eiendom daar te besit. "Deur hierdie eiendom aan te skaf, het ons nie net die voorreg van grondbesit gekry nie, maar ook ons titels, 'lord en lady', ontvang," vertel Zhané.
Charlie se familie is afkomstig van Skotland, Nederland en Engeland.
Zhané se ouers, Eddie en Denise Myners, en haar broer Ethan. Haar gesin het tuis, in Pacaltsdorp, na 'n regstreekse uitsending van haar troue gekyk. Probleme met visas het verhoed dat hulle die troue kon bywoon. Hulle plekke aan die bruidstafel is oopgehou.
Vir Zhané is hierdie titelskap beide 'n persoonlike oorwinning en 'n huldeblyk aan haar ouers, Eddie en Denise Myners, haar oupa en ouma Gert en Elize Myners, haar broer Ethan en al haar naaste familie. "Hulle is die mense wat my geleer het wat liefde, integriteit, hardwerkendheid en deursettingsvermoë beteken," sê Zhané.
"My reis as jong meisie met groot drome tot 'n lady van adeldom is 'n bewys van die waardes wat my familie in my gevestig het."
'n Rooiwyn van Stellenbosch vir hul piekniek.
Die ontmoeting
In 2022 het Zhané 'n moedige besluit geneem om die Verenigde Koninkryk op haar eie te verken. Wat bedoel was as 'n drie maande reis, het uiteindelik vyf maande geword – en haar lewe onherroeplik verander. Dit was tydens hierdie avontuur dat sy Charlie in Manchester ontmoet het.
Slegs twee dae nadat hulle begin gesels het, het hul eerste afspraak plaasgevind. Zhané het 'n eenvoudige piekniek ingepak, terwyl Charlie 'n bottel Suid-Afrikaanse wyn saamgebring het.
Hulle het die dag in Walton Park in Sale, Manchester, deurgebring, en reeds binne die eerste paar minute was dit duidelik dat daar 'n spesiale konneksie tussen hulle was.
'n Foto met hul eerste ontmoeting, tydens 'n piekniek in 'n park in Manchester, April 2022.
Terwyl Zhané voortgegaan het om die Verenigde Koninkryk te verken, het Charlie gereeld by haar aangesluit tydens vakansies en naweke. Hulle het saam 43 dorpe en stede in die Verenigde Koninkryk besoek.
Teen September 2022 was dit tyd vir Zhané om terug te keer na Suid-Afrika. Voordat sy vertrek het, het sy vir Charlie gesê dat as hy werklik ernstig is oor hul verhouding, hy haar moes volg en haar pa se toestemming moes vra om haar die hof te maak. Drie maande later, in Desember 2022, het hy sy belofte nagekom en na Suid-Afrika gereis.
Daar het hy haar familie ontmoet en sy eerste Suid-Afrikaanse Kersfees in die somerson beleef.
Die egpaar woon tans in Waltshire County, Cotswolds, in Suid-Wes Engeland.
Gedurende hul 18 maande lange langafstandverhouding het hulle in kontak gebly deur daaglikse gesprekke en 'n spesiale tradisie van Woensdagaande-afsprake.
Op hierdie aande het hulle vir mekaar etes via Uber Eats bestel en dieselfde fliek op Netflix gekyk - 'n manier om, ten spyte van afstand, steeds 'n intieme verbintenis te behou.
Zhané se ma, Denise Myners, en haar ouma, Elize Myners.
In Junie 2023 het Charlie na Suid-Afrika teruggekeer met 'n spesiale vraag - en 'n besondere erfstuk.
Hy het Zhané gevra om met hom te trou met sy ouma se verloofring, 'n tydlose stuk met 'n geskiedenis van meer as 100 jaar.
Hierdie ring dien as 'n simbool van hul liefde, 'n verbinding tussen hul verlede en hul toekoms saam.
Vandag is lady Zhané en lord Charles gelukkig getroud en lewe hulle die "English country life". Hul storie is een van liefde, deursettingsvermoë en 'n gedeelde passie vir avontuur - 'n moderne sprokiesverhaal.
Zhané Myners, sprokiesmooi in haar trourok.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’