GEORGE NUUS - Solidariteit Helpende Hand se George-tak se Kerrie en Kuier-aand op 25 Oktober beloof om ’n heerlike byeenkoms te wees – en dis vir ’n goeie doel.
Die fondse wat ingesamel word is ten bate van Helpende Hand se studiefonds vir voornemende plaaslike studente.
Die funksie word in die Gereformeerde Kerk se saal in Tweedestraat gehou en Thai- asook botterkerrie is op die spyskaart.
Dié lekker kerries word bedien met basmatirys, ’n broodtafel, tuisgemaakte konfyte, kaas en daarna afgerond met koeksisters en koffie.
Gaste is meer as welkom om hul eie drinkgoed te bring teen ’n kurkfooi van R10 per bottel – onthou dis vir ’n goeie doel!
Anthony Noble sal ’n unieke kunswerk voor die gaste se oë optower.
Die aand word verder opgekikker met ‘n gelukkige trekking en 'n veiling met onder andere ’n vliegrit, wildsritte, vakansieverblyf en vele meer om te wen en om op te bie.
Pryse sluit in 'n R500-koopbewys van Van Rensburg Foods, ‘n Norga Kwekery koopbewys, Botlierskop-wildsritte en vele meer. Lootjies vir die gelukstrekking is vooraf en tydens die funksie te koop.
So neem jou familie en vriende en gaan geniet n feestelike aand saam met Solidariteit Helpende Hand se George-tak. Kaartjies is R150 per persoon. Bespreek by www.weskaaphand.co.za.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’