SUID-KAAP NUUS - Avontuurlustiges en kunsliefhebbers kan gereedmaak om die Klein-Karoo saam met Lizz Meiring te verken en dit vir 'n goeie doel. Lizz is 'n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaanse aktrise, regisseur, teatervervaardiger, TV-aanbieder, seremoniemeester, spreker, kunsaktivis, kreatiewe konsultant en skrywer.
Die Klein-Karoo is vol historiese plekke, van sandsteenkerke tot katedrale en sinagoges, wat die geloof en kultuur van die streek uitbeeld.
In November, gaan Lizz Meiring en haar vriendin, die kranige stapper Sandra Odendaal, in die omgewing kuier. Sandra gaan die Camino van die Sandsteenkerke stap om fondse vir Solidariteit Helpende Hand in te samel, terwyl Lizz haar program Van Die Rak Af, aanbied.
Hierdie onvergeetlike reis word deur die Klein Karoo Camino aangebied en bied 'n kombinasie van kultuur, natuur en vermaak.
Die gebeurtenis begin op Sondag 10 November by die Baron's Palace Hotel in Oudtshoorn.
Program
Dag 1: Sondag 10 November begin die reis met die lieflikheid van die Klein-Karoo en die Baron's Palace Hotel.
Dag 2: Maandag 11 November vertrek almal na Dysselsdorp se Kruiskerk. Die stappers stap daarvandaan na De Rust terwyl die res van die groep na De Rustica Olyfplaas vertrek vir 'n olyfproe.
Dag 3: Dinsdag 12 November stap die stappers van De Rust af na De Rustica vir 'n olyftoer. Die res van die groep besoek Oudtshoorn se historiese geboue en sluit die dag af met 'n sterrekyk en aandete.
Dag 4: Woensdag 13 November verken die groep die Kango-grotte en geniet 'n middagete by die NG Kerk Kangovalleie se Bybelse Tuin. Die aandprogram sluit Lizz Meiring se optrede in die Oudtshoorn-burgersentrum se ouditorium in.
Dag 5: Donderdag 14 November eindig die reis met 'n besoek aan die NG Moedergemeente en 'n afskeidsete by De Krans-wynlandgoed in Calitzdorp.
Lizz Meiring hier te sien
Die publiek sal die geleentheid kry om Lizz by die volgende plekke in aksie te sien:
- Sondag 10 November: Graaff-Reinet by die Laer Volkskool.
- Woensdag 13 November: Oudtshoorn-burgersentrum.
- Donderdag 14 November: Calitzdorp by De Krans-wynlandgoed.
- Vrydag 15 November: Mosselbaai by die Hoërskool Punt.
- Saterdag 16 November: George by die Eden Gemeente.
"Die Camino van die Sandsteenkerke is meer as net 'n toer. Hierdie inisiatiewe is daarop gemik om mense se lewens te verryk deur hulle aan die omgewing en mekaar te verbind, terwyl fondse ingesamel word vir Solidariteit Helpende Hand se projekte om gemeenskappe te ontwikkel," sê Alisha de Lange, Solidariteit Helpende Hand se streekbestuurder van die Wes-Kaap.
Besoek www.kleinkaroocamino.co.za vir meer inligting.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’