Só sê Nerissa Coetzee, vloerbestuurder van Xtreme Body Factory in die Fairview-kantoorpark.
Nerissa verwoord die gevoelens van inwoners en besighede in die omgewing van Eerste- en Tweedestraat wat oorkook jeens mede-Georgiete wat aanhou met die onwettige praktyk om tydelike werkers langs hierdie pad op te tel.
Die George-munisipaliteit se kennisgewingborde wat die optel van werkers hier verbied en die rooi padstrepe het geen effek op die skuldiges se gedrag nie.
Nog 'n werknemer in die besigheidspark wat anoniem wil bly, stel dit só: "Hulle is soos steeks donkies en het nie 'n greintjie agting vir ons wat in hierdie omgewing woon en werk nie."
Coetzee beaam dat die skuldige motoriste veroorsaak dat werkloses die heel dag daar "rondluier". "Ons moet maar die spit afbyt van die potensiële gevaar wat dit inhou."
George Herald se subredakteur, Emsie Martin het Dinsdagmiddag om 14:00 29 werksoekers in Eerstestraat tussen Courtenay- en Standerstrate getel.
Raadslid Chris Neethling, wat in Fairview Gardens woon, is ook warm onder die kraag. "Ek wonder maar net of die mense in ander gebiede daarvan sal hou as dit by hulle gedoen word," sê hy.
Hy sê wetstoepassing word bemoeilik omdat die optellery nie op vasgestelde tye plaasvind nie. "Dit gebeur deur die loop van die dag. My grootste probleem is die feit dat die plante voor Fairview Gardens as 'n toilet aangewend word."
Die werkers laat ook rommel op die sypaadjies agter. "Die afgekampte gebied vir vullis afkomstig van die besigheidspark was verlede week een gemors soos wat mense die vullissakke met stokke nader getrek, daarin gekrap en die area soos 'n varkhok agtergelaat het," sê Neethling.
Coetzee sê hulle voel dat hulle gedurig dopgehou word. Voorverlede Sondag is iemand reg voor die besigheidspark se ingang gesteek. Sy is doodbang wanneer sy voor sonop die deure van die gimnasium moet oopsluit en saans laat moet toemaak. "Ek weet nie watse skarminkel vir my agter in ‘n donker hoekie gaan wegkruip nie."
Sy het 22 handtekeninge ingesamel van mense in die Fairview-kompleks wat eis dat die munisipaliteit daadwerklik iets doen.
Die George Herald het al verskeie kere oor die situasie berig. Die munisipaliteit volstaan elke keer by die kommentaar dat werksoekers nie sommer net gearresteer of van die straat af verwyder kan word nie. "Dit is 'n situasie wat nie omgekeer kan word totdat die publiek die verkeerstekens gehoorsaam nie," het die kommunikasiebeampte, Debra Sauer by 'n vorige geleentheid gesê.
Twee wetstoepassingsbeamptes van die munisipaliteit is 'n tyd terug deur van hierdie werkloses aangeval toe die beamptes hulle probeer oorreed het om weg te gaan.
Diefstal en inbrake by besighede en wonings in die oostelike gebiede het in die afgelope tyd skerp toegeneem en kinders is ook al in die strate beroof.
Die anonieme werknemer meen die George-munisipaliteit versuim sy plig. "Hulle moes lankal 'n optrede geloods het teen die motoriste wat hier oortree. Dit lyk my hulle voel óf geïntimideerd óf hulle stel nie belang nie."
'n Voorstel van Hennie Barnard dat die munisipaliteit gereelde padblokkades hou om onwettige motoriste te ontmoedig, sê sy woorde val skynbaar op dowe ore. Barnard se ma woon in die omgewing en hy is besorg oor haar veiligheid. "Die munisipaliteit kan dit stopsit - as hulle net wil," sê hy.
_524648240.jpg)
Nerissa Coetzee het hierdie foto ingestuur van mense wat opgelaai word op die parkeerterrein oorkant Fairview-kantoorpark.
ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'