GEORGE NUUS - Die kruis in die Outeniquaberg het oor die jare al vir 'n paar mense nuwe hoop gegee in donker tye, sê Susan Deacon, die persoon wat dit in 1997 laat oprig het nadat haar seun Marcel, toe 17 jaar oud, ernstig in 'n fratsongeluk beseer is.
"Ons was baie geskok en kon die nag nie slaap nie. Ons het verskriklik gehuil. Tweeuur die nag was ons op die stoep.
"Terwyl ons gestaan en bid het, het ek skielik kalm geraak en die trane het opgehou. Ek was absoluut verwonderd en het besef die Here het my aangeraak. Terwyl ek dink aan ander mense wat ook wakker en beangs is, het ek 'n visie van 'n kruis op die berg gesien en die Here beloof ek sal 'n kruis op die berg oprig waar almal dit kan sien."
Sy het by haar belofte gehou. Marcel, wat ernstige bloeding op die brein gehad het, het 'n lang en moeisame herstelpad gehad, maar het uiteindelik ten volle genees.
Susan sê op die eerste nag (in September 1997) wat die kruis aangeskakel is, het 'n vrou wat aan depressie gely het, dit gesien.
"Wanneer die mis laag oor die berg lê, het dit gelyk asof die kruis in die lug hang. Sy het geskrik en gedink die wêreld vergaan. Sy het 'n vriend wat naby die berg bly, gebel en gesê hy moet na die berg kyk en sê wat hy sien. Dit was lank stil aan die anderkant van die lyn. Toe hy weer praat, wou hy weet hoekom sy hom bel. Hy het groot probleme en het beplan om selfmoord te pleeg sodra die son opkom, maar hy het vir die Here gevra om vir hom dié nag 'n teken te gee, en nou is daar 'n kruis op die berg.
"Die uiteinde was dat albei se geloof versterk is en dat hulle nuwe hoop gehad het. Ek het ook al gehoor van mense wat besig was om te sterf wat hulle bed gedraai het sodat hulle die kruis kan sien."
Susan sê as daar enigiemand is wat oor die kruis wil gesels, kan hulle haar bel by 073 648 1749.
Eugene Gunning, het vir Jacques Mouton en Francois Smit voor die verligte kruis afgeneem.
Zane Schmahl het hierdie treffende foto van die kruis met die sterrehemel in die agtergrond geneem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’