HESSEQUA NUUS - Is jy altyd voor in die koor? Kan jy jou sê so koel soos ’n komkommer sê? Nou ja, toe!
Dan is die splinternuwe Nou praat jy!-redenaarskompetisie net vir jou bedoel.
Curro Durbanville Hoërskool nooi met trots hoërskole reg oor die land uit om hul mees gesoute span in te skryf vir die toonaangewende kompetisie-met-’n - kinkel: twee leerders moet saamspan en as ’n eenheid die toespraak aanbied.
Die tema is Afrikaans – ’n taal van kleure en klank, en dis heel gepas, omdat Afrikaans vanjaar 100 jaar lank ’n amptelike taal is.
Die bekgeveg kan oorredend, vermaaklik of motiverend aangebied word en is oop vir Afrikaans Huistaal-sprekers én Afrikaans Eerste Addisionele Taal-sprekers in ’n kategorie vir Juniors (gr. 8 en/of 9) en Seniors (gr. 10 tot 12). Elke span het 5 tot 7 minute om ’n klip in die bos te gooi, en die beoordelaars lek veral hul lippe af vir ’n spontane wisselwerking tussen sprekers.
“Ons sien uit na ’n lekker geselstrant,” sê Afrikaansonderwysers Joline de Klerk en Maritsa Smit.
“Meer nog, ons hou styf duim vas dat spanne streekstaal en dialekte van Afrikaans verhoog toe bring.
Ons hoop hulle kom praat soos hulle by die huis praat!”
Die gekonfytstes onder die mededingers kan uitsien na stewige kontantpryse: die wenskole en wenners kry R10 000 elk, naaswenners kry R6 000 elk en derdeplekwenners kry R4 000 elk.
Die kompetisie vind op 25 en 26 Junie by Curro Durbanville Hoërskool plaas.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 24 April.
Inskrywingsvorms is aanlyn op die skool se webtuiste beskikbaar of stuur ‘n e-pos aan Joline de Klerk by joline.d@curro.co.za vir meer besonderhede.
Komaan, sit die bal aan die rol!
Nou praat jy! is deel van Curro Durbanville Hoërskool se nuwe Kultura-Fees wat van 20 tot 27 Junie op die skool se kampus aangebied word.
Buiten produksies van geliefde kunstenaars soos Sandra Prinsloo, Marion Holm, Francois van Coke, Barry Hilton en Early B, gaan hoërskool-bands ook kans kry om die kitaar te slaan.
En, omdat al hierdie dinge juis in Durbanville plaasvind, gaan daar ’n wynfees wees sodat die wynplase van die omgewing met hul wyne kan spog en die gemeenskap ook dié kultuurbydrae saam kan geniet!
Kaartjies is beskikbaar by https://www.quicket.co.za/
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’