GEORGE NUUS - Op Vrydag 9 Oktober is daar behoorlik gekuier, gelag en geëet by Helpende Hand se Kerrie en Kuier-funksie ten bate van die George-tak se studiefonds.
Die doel van die kuier was om die gemeenskap bewus te maak van die Helpende Hand-studiefonds asook om fondse vir die George-studiefonds in te samel.
Die 150 kaartjies vir die geleentheid het soos soetkoek verkoop.
Jaco Koekemoer, die seremoniemeester, het hom uitstekend van sy taak gekwyt en gesorg dat almal ingetrek is in die aand se vermaak. Hy het pryse uitgedeel en bieërs aangemoedig om die veiling wat gehou is, te ondersteun. Koekemoer het gesê vrywilligers wat hande vat maak ’n verskil en is onontbeerlik.
Die voorsitter van die George-tak, Tracey Weideman, het die gehoor meer vertel van die studiefonds en ’n video-oorsig gegee van die taklede se aktiwiteite gedurende die jaar.
Deur die loop van die aand was daar gelukstrekkings en danksy die groothartige skenkings van die gemeenskap van George was daar baie wenners.
“Die Helpende Hand George-tak is dankbaar vir elke gas se teenwoordigheid asook die borge en donateurs vir hulle oop hande. Dit was voorwaar ’n reusespanpoging,” het Weideman gesê.
Kobus Koekemoer (links), Hennie Pretorius en Ulise du Preez is handig in die kombuis. Foto: Verskaf
Die tafels was keurig gedek. Foto: Verskaf
Jaco Koekemoer, die seremoniemeester, en sy vrou Regina. Foto: Verskaf
Gaste geniet die aand. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’