GEORGE NUUS - Diereliefhebbers in Braambosstraat, Bos en Dal, is in skok nadat 'n klomp katte glo in die laaste paar maande deur 'n buurman vergiftig is.
Hulle waarsku dat die gif wat gebruik word, nie net troeteldiere bedreig nie, maar ook 'n gevaar vir kinders kan inhou. Veeartse het intussen bevestig dat die diere aan gif blootgestel is.
Een van die slagoffers was Popcorn, 'n kat wat al twaalf jaar deel van sy eienaar, Coleika Wagener, se lewe was.
"Hy was soos 'n mens. Baie netjies en vol fiemies. Hy het glad nie daarvan gehou om vuil te wees nie. Hy het nooit na die bure toe gegaan nie, want almal het honde. Hy was altyd by die huis en het nie sommer enigiets geëet nie," vertel sy.
Toe bure onlangs begin vertel dat hul katte vergiftig is, het Wagener Popcorn binnenshuis probeer hou. Maar op 'n Sondag 17 Augustus is die geliefde troeteldier dood in 'n buurman se erf aangetref ná daar reeds 'n poging aangewend was om hom 'n week vroeër te vergiftig.
"Hy het swart opgegooi en was reeds dood toe ons bure my roep," sê Wagener.
In Februarie vanjaar het dieselfde gesin reeds hul kat Zoey weens vergiftiging verloor.
"Sy was altyd in die huis en in ons tuin. Een oggend het sy in die huis ingehardloop, haarself vuil gemaak, geskree, swart opgebring en begin ruk. Ek het haar dadelik Vetcare toe geneem, maar sy is dieselfde dag dood," vertel Wagener.
Die gifdoder se slagoffers beperk hulle egter nie tot een erf nie. Kort ná Popcorn se dood is 'n buurvrou se tweede kat ook vergiftig en het presies dieselfde simptome getoon.
In die mees onlangse geval is nóg 'n kat, Noenoe, op Maandag 25 Augustus dood. Hy het vermoedelik ook 'n wrede gifdood gesterf.
"Dit was my 80-jarige ouma se geliefde kat. Hy was haar metgesel en ek weet nie of sy op haar ouderdom nog 'n troeteldier gaan inneem nie. Haar hart is bitter seer en sy mis hom vreeslik baie. Sy huil al vir dae lank," sê Jessica Pretorius.
Pretorius het Noenoe se lyk by die veearts afgegee sodat 'n nadoodse ondersoek gedoen kan word.
Volgens haar het die kat 'n swart vloeistof begin opgooi, in die rondte gedraai en by die deur uitgehardloop. "Teen die tyd dat ons by die veearts aangekom het, was hy reeds dood. Ons het wel 'n vermoede oor wie hiervoor verantwoordelik kan wees," sê sy.
'n Derde katliefhebber van Braambosstraat, Verity Terblanche, het ook onlangs twee katte verloor. Hy vertel hoe sy kat Frankie op Sondag 17 Augustus by die deur ingestorm het, begin tol en "swart goed" opgebring het voordat hy dood neergeval het. 'n Maand gelde het hul ander kat, Nala, ook aan vergiftiging gesterf.
Die voorvalle is reeds by die polisie en die DBV aangemeld.
Volgens Coriza Vermeulen van Cat Garden Route is katvergiftiging ongelukkig 'n toenemende probleem in verskeie woonbuurte. Sy waarsku dat eienaars ekstra waaksaam moet wees en hul troeteldiere so ver moontlik binne moet hou.
Pragtige Zoey is een van die katte wat vergiftig is.
Noenoe se 80-jarige eienaar se hart is gebroke ná haar geliefde kat Maandag vergiftig is.‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’