Gallery Video
GEORGE NUUS - Carpe Diem Skool se kwarteeuvieringe op Vrydag 25 Julie was tegelyk 'n jolige en inspirerende geleentheid waaraan die kinders, onderwysers en weldoeners van die skool entoesiasties meegedoen het.
'n Standbeeld wat deur die Hoekwil-beeldhouer, Ian Visser, spesiaal vir die herdenking geskep is, is onthul en bevat pragtige simboliek om dit waarvoor die skool staan en die leerders se lewensfases, te simboliseer.
Die glanspersoonlikheid Marelize Steyn Earle, wat onlangs as Mrs Globe Classique 2025 gekroon is, was ook teenwoordig en het spontaan aan die pret meegedoen.
Die warm klanke van die skool se marimba-orkes het gaste op 'n vrolike noot verwelkom. Die hoof, Elzeth Grobler, het gesê hulle harte is vol om hierdie groot mylpaal te kan vier. Sy het die onderwysdepartement en die gemeenskap bedank sonder wie dit nie moontlik sou wees nie.
Die gemeenskap het bewys hulle stel belang in die kinders "wat uniek anders gevorm is en wat in hierdie lewe 'n verskil kan maak". Sy het besighede, wat nog nie 'n Carpe Diem-leerder het wat vir hulle werk nie, genooi om die skool te besoek.
'n Heerlike partytjie het ná die formele program op die kinders gewag met 'n pragtige versameling verjaarsdagkoeke wat opgeëet moes word. Verskillende plaaslike bakkers het die koeke gebak en hulle is ook beoordeel. Nina's Cafe se koek het met die wentrofee weggeloop.
Die marimba-orkes staan onder leiding van Hilde van der Meulen (links). Die hoof, Elzeth Grobler, staan vir 'n foto saam met die talentvolle lede.
Die beheerraadvoorsitter, Willem Bezuidenhout, was die gasspreker. Hy het gesê die hele Carpe Diem-gemeenskap het die ingesteldheid van 'n Kaleb wat die moeilike, bergagtige grondgebied gekies het. Dit is wat die skool so besonders maak en bymekaar hou.
Die skool is gebou op die onwrikbare geloof dat elke kind - wat ook al hulle vermoëns - verdien om 'n lewe te lei met waardigheid, vreugde en geleenthede.
SIEN 'N FOTOGALERY: Jolige 25 jaar herdenking vir Carpe Diem Skool
Die kunstenaar Ian Visser verduidelik aan dr. Corli Lödder, een van Carpe Diem se ondersteuners, die simboliek van die beeld.
"Vandag is 'n viering van al die lewens wat die afgelope 25 jaar deur die skool geraak en verander is," het Bezuidenhout gesê.
"Deur geduld, deursettingsvermoë en 'n onwrikbare visie het die skool 'n baken van hoop in die Tuinroete vir kinders met gestremdheid en hulle families geword. Dit het elke jaar van krag tot krag gegaan en gegroei om meer kinders te bereik en dienste uit te brei. Oor die afgelope 25 jaar is duisende jong lewens hier gevorm en gemotiveer.
"Die leerders het nie net versorging en terapie ontvang nie, maar ook die mees kosbare geskenk - die wete dat hulle saak maak en dat hulle raakgesien en gehoor word, en dat hulle potensiaal grensloos is."
Skandeer die kode om na 'n video te kyk.
Partytjietyd.
Sny nou net die koek!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’