GEORGE NUUS - Wat as 'n eenvoudige guns tussen vriende begin het, het ontwikkel in 'n gemeenskapsinisiatief wat hierdie winter skuilinghonde regoor die Tuinroete warm hou.
Die Jassies vir Bassies-projek het ontstaan toe Tergniet-inwoner Debbie Campbell gevra is om 'n pakkie handgemaakte hondejassies na George te vervoer.
Die jassies is deur mede-Tergnieter Dottie Hanekom gemaak, wat dit op eie koste en tyd vir die honde by Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) begin stik het.
Geïnspireer deur die gebaar het Campbell 'n beroep op plaaslike vroue en naaldwerkentoesiaste gedoen om saam te help om nóg warm jassies vir honde by dierewelsynsorganisasies te maak.
Die reaksie het alle verwagtinge oortref.
Vandag skenk sowat 26 vrywilligers hul tyd, naaldwerkvaardighede en materiaal om handgemaakte vliesstofjassies (fleece) vir honde te maak wat nog op hul permanente huise wag. Baie dra ook finansieel by om die koste van materiaal, gare en ander benodighede te dek.
Tot dusver is 48 jassies aan die Mossel-baaise DBV geskenk, en die groep is tans besig om jassies vir die Tuinroete DBV in George te maak.
Die organiseerders hoop om die projek ook binnekort na die Knysna Animal Welfare en die People's Dispensary for Sick Animals uit te brei.
"Elke jassie verteenwoordig omgee. Dit is ongelooflik om te sien hoeveel mense saamstaan om diere te help wat hulle nog nooit ontmoet het nie. Elke bydrae mag dalk klein lyk, maar saam het ons reeds dosyne honde warm gehou," sê Campbell.
Met die winterkoue wat voortduur, doen die groep 'n beroep op die publiek om vliesstof, gare, kleefstroke (Velcro) of geld te skenk sodat daar nog jassies gemaak kan word.
Enigiemand wat materiaal wil skenk, borg of by die projek betrokke wil raak, kan Campbell by 072 215 6125 kontak.
"Ons naaimasjiene is gereed, ons vrywilligers is ywerig, en daar is nog baie bassies wat op 'n warm jassie wag," sê sy.
Van die materiaal wat vir die projek gebruik word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’