GEORGE NUUS - Die dapper, jong leukemielyer Jana Human van George is in remissie en het die beëindiging van 'n lang kursus chemoterapiebehandeling - van meer as twee jaar - op Woensdag 20 Maart by Life Bay View-hospitaal in Mosselbaai luid aangekondig deur die gebruiklike klok te lui.
Die vreugdevolle oomblik is bygewoon deur Jana se ouers, Jaco en Petru, haar twee sussies Nita en Ankia, asook ander familielede en vriende.
Jana is in September 2021 met Tipe B akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer. Ná aanvanklike intensiewe chemoterapiebehandeling in die Rooikruis-kinderhospitaal is sy op 'n maandelikse behandelingskursus geplaas.
Petru het die stryd as 'n "wipwarit" beskryf en gesê hulle is almal baie verlig dat dit verby is.
Jana moes aanvanklik ook maandeliks 'n lumbale punksie ondergaan, wat die laaste ses maande verminder is na tweemaandeliks.
Die lumbale punksies is gedoen om te toets vir die aanwesigheid van kankerselle. Jana moes ook daagliks chemoterapietablette drink.
Vir Jana is die beëindiging van al hierdie behandelings 'n uiters groot verligting. "Sy was so opgewonde om die leë pillehouertjie weg te gooi, want dit is die einde van die naar en siek wees vir haar."
Petru het die personeel van saal 6 en dr. Anieta Esterhuizen bedank omdat hulle die kloklui-geleentheid baie spesiaal gemaak het. "Met baie emosie en dankbaarheid het ons 'n groot gedeelte van 'n baie lang hoofstuk afgesluit, 'n hoofstuk wat begin het op 21 September 2021.
"Jana gaan steeds een keer per maand vir die volgende drie maande Bay View toe om haar port te spoel. Na drie maande kan ons die port laat verwyder.
"Ons wil almal bedank vir al hul liefde, gebede, bystand en omgee. Ons bly op ons knieë dat Jana in remissie sal bly en ten volle herstel."
'n Verligte en dankbare Jana by die Life Bay View-hospitaal verlede week waar sy die klok gelui het.
Jana, wat op 15 April 10 jaar oud word, is tans in gr. 4 in Laerskool Outeniqua. Sy het al haar skoolwerk ingehaal wat agterweë gebly het weens die skooltyd wat sy verloor het. "Sy het hard gewerk om dit te kon doen en ek is baie trots op haar," sê haar ma.
Gevra hoe die gesin moed gehou het deur die beproewende tydperk, was Petru se antwoord, "As sterk wees jou enigste opsie is, moet jy maar sterk wees. En ons het maar op ons knieë gebly."
Jana het almal om haar geïnspireer met haar veggees en die feit dat sy uitgereik het na ander in nood terwyl sy self siek was.
Gedurende die tydperk wat sy behandeling by die Rooikruis-hospitaal ontvang het, het sy haar Winter Woolies-projek begin waardeur sy kombersies, serpe en handskoene ingesamel het om dit in die winter vir minderbevoorregte kinders te skenk wat ook by die kinderhospitaal behandeling ontvang het.
George se gemeenskap het tydens Jana se stryd op verskeie manier probeer ondersteuning bied. Oewerstraat se Kersliggies is in Desember 2021 aan Jana opgedra en 'n aantal motorfietsklubs het bystand verleen deur donasieritte te reël.
Jana saam met dr. Anieta Esterhuyse.
Geloof het die gesin deurgedra.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’