GEORGE NUUS - Meer as 'n dekade nadat die gemeenskap van Pacaltsdorp gehoor het dat hul kliniek opgegradeer gaan word, is daar steeds geen duidelike tydraamwerk vir die uitbreiding nie.
Raadslid Marchell Kleynhans van die Patriotiese Alliansie het op Maandag 23 Februarie 'n versoekskrif met 1 500 handtekeninge aan Liza le Roux, die distriksdirekteur van gesondheidsdienste vir die Tuinroete en Sentraal-Karoo (Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand) oorhandig.
Daarin vra inwoners onmiddellike ingryping en 'n duidelike tydlyn vir opgra-dering van die kliniek, of die bou van 'n nuwe fasiliteit. Hulle vra ook vir meer personeel en 'n daghospitaal.
Tans word opknappingswerk ter waarde van R4 miljoen gedoen, maar die uitbreiding wat reeds in 2013 aangekondig is, bly net 'n belofte. Dis 'n projek van die nasionale gesondheidsdepartement. Die kliniek is in die vroeë tagtigerjare gebou en nie meer voldoende vir die groeiende bevolking nie.
Nadia Ferreira, distrikswoordvoerder vir gesondheid, het by navraag gesê: "Die nasionale departement neem die projek tans vorentoe met behulp van die provinsiale departement se bestuurskontrakteurraamwerk. Dit is in die finale stadium van goedkeuring as deel van 'n samewerkingsooreenkoms. Sodra dit gefinaliseer is, kan 'n bestuurskontrakteur aangewys word en 'n tydraamwerk bepaal word."
Poste word gevul
Ferreira het gesê 'n addisionele verpleeg-kundige is onlangs by die Pacaltsdorp-kliniek aangestel en nog 'n pos sal binnekort gevul word. Die fasiliteit beskik tans oor 'n permanente dokter en 'n dokter wat addisionele sessies verrig, 13 verpleegpersoneellede, vier administratiewe personeellede, twee skoonmakers en sekerheidsbeamptes.
Personeeltoekennings word bepaal deur die bevolkingsgrootte en gemiddelde jaarlikse pasiëntgetalle. Die personeelverdeling tussen die Conville- en Pacaltsdorp-klinieke is volgens haar grotendeels vergelykbaar.
Pacaltsdorp hanteer daagliks tussen 200 en 250 pasiënte.
Raadslid Marchell Kleynhans oorhandig die petisie aan Liza le Roux, distriksdirekteur van gesondheid. Foto: Verskaf
Ferreira het gesê die vraghouers op die terrein word tydelik gebruik om addisionele ruimte te skep. Ten spyte van die opknappingswerk word dienste steeds vanuit tydelike areas gelewer, insluitend TB- en MIV-dienste, apteekdienste, uitreikprogramme, berading, dienste van die South African Social Security Agency (Sassa), maatskaplike werk, dieetkundige dienste en spraakterapie.
Die kliniek werk volgens 'n afspraakstelsel waar pasiënte spesifieke tydgleuwe ontvang en versoek word om 30 minute voor hul afspraak aan te meld. Pasiënte met bevestigde afsprake word eerste gehelp, waarna onbe-spreekte pasiënte bygestaan word soos kapasiteit dit toelaat. Mediese noodgevalle kry prioriteit.
"Ons verstaan die publiek se frustrasie en bedank hulle vir hul geduld tydens hierdie proses. Ons vra ook geduld met die personeel, wat binne die beskikbare ruimte werk," het Ferreira gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’