GEORGE NUUS - Inflasie gaan daal en die ekonomiese groei rondom 2% wees. Dit was die boodskap van hoop en 'n voorspelling wat Johann Els, die hoofekonoom van die beleggingsreus Old Mutual, verlede Vrydag, 17 Februarie, gebring het tydens 'n geleentheid by Hoërskool Outeniqua (Kwaggas).
Tydens die geleentheid is 'n glasie geklink om dankie te sê vir maatskappye en instansies wat by die skool betrokke is en ook op die skool wat vanjaar 100 jaar oud is.
Talle oudleerlinge het groot hoogtes in hul loopbane bereik. So iemand is Els, 'n oudleerling. Hy was heel gepas die geleentheidspreker.
Els het in 1980 aan die skool gematrikuleer en was destyds een van die topleerlinge. Hy het vertel dat hy reeds in 1976 sy passie vir ekonomie by die skool ontdek het.
Sommer aan die begin van sy toespraak het Els gesê hy het 'n broertjie dood aan mense wat net die negatiewe kant van die wêreld sien. Mense kom by hom en maak PowerPoint-aanbiedings waarin al die negatiewe dinge oor Suid-Afrika uitgelig word, maar dis nie gebalanseerd nie.
Johann Els, hoofekonoom van Old Mutual. Foto: Eugene Gunning
Daar gebeur baie positiewe dinge in Suid-Afrika. As mense net op die negatiewe fokus, gaan hulle die geleenthede mis.
Een ding wat al die aanwesiges in gemeen het, is hulle gaan eendag aftree. "Ons almal moet spaar vir ons aftrede."
As daar net op die negatiewe gefokus word, sal daar nie 'n behoorlike opbrengs op hul beleggings in hul pensioenfondse wees nie. Dit sal beteken hulle het nie genoeg geld om gemaklik te kan aftree nie.
Daar is wel dinge soort beurtkrag en slaggate, maar dinge is geleidelik besig om te verbeter.
Ondanks die negatiewe is hy vol vertroue dat die ekonomiese groei opwaarts sal skuif. Oor 5 tot 7 jaar kan ekonomiese groei lig tot 2,5%. Dis egter nie genoeg nie en wat nodig is, is groei van 4%, 5% en 6% op 'n volgehoue basis.
Aanwesiges Vrydag tydens die geleentheid. Foto: Eugene Gunning
Hy glo mense moet 'n gebalanseerde benadering volg en kyk waarheen dinge en die land op pad is. Meer moet gedoen word. As Suid-Afrika by 4%, 5% en 6% groei wil uitkom, moet byvoorbeeld die arbeidsmark gedereguleer word. Baie maatskappye sal byvoorbeeld eerder 'n masjien koop. Hulle redeneer 'n masjien staak nie. Die SA arbeidsmark is te gereguleer.
In die stadium sien hy genoeg getuienis dat die Suid-Afrikaanse ekonomie vanjaar 2% kan groei. Daar is pogings om die beurtkrag situasie aan te spreek en die privaat sektor is betrokke by pogings om elektrisiteit te voorsien.
Om die uitdagings wat gepaard gaan met moontlike koalisieregerings met van die groot partye na aanstaande jaar se verkiesing te vermy, moet die ANC so gou moontlik hul beleid in plek kry en byvoorbeeld ontslae raak van beurtkrag.
Belanghebbendes, borge, donateurs en personeel van Kwaggas verlede Vrydag by die skool. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'