GEORGE NUUS - 'n Gedeelte van die dak van 'n huis in Heatherlands het gedurende die nag in die stormwind afgewaai. Pogings om vanoggend, Sondag 7 Julie, met die eienaar kontak te maak, was onsuksesvol.
Die afgewaaide gedeelte wat volgens 'n vroegoggendfoto op die Georgiete Staan Saam Facebookblad in die pad gelê het, is intussen na die oprit van die huis verskuif.
Nog 'n huis in Ericaweg, waar aan die dak gewerk word, het 'n gat in die dak nadat 'n tydelike bedekking afgewaai het. Dit is vanoggend tydelik herstel.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het 'n waarskuwing uitgereik vir vandag en môre vir 'n intense kouefront en gepaardgaande laedrukstelsel met sikloniese vloei tussen Alexanderbaai en Gqeberha.
Die hoof van Tuinroete-rampbestuur, Gerhard Otto, waarsku dat stormseetoestande en uitermate hoë golwe teen vanmiddag 15:00 in Witsand verwag word en die Tuinroetekus teen môreoggend tussen 05:00 en 06:00 kan tref.
"Ons hou die situasie dop, veral in die gewone plekke wat kwesbaar is soos Victoriabaai, Heroldsbaai en Wilderness.
"Ons verwag nie baie swaar reën in ons omgewing nie; ons meer bekommerd oor die wind en stormsee," sê Otto.
Hy sê benewens die dak wat afgewaai het, is die enigste ander skade wat tot dusver aangemeld is, bome wat omgewaai het in Denneoord, Blanco en Heatherpark.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’