GEORGE NUUS - Daar is hoop vir leerlinge wat daagliks met emosionele uitdagings worstel, maar nie die vrymoedigheid het om met 'n ouer persoon of familielid te gaan gesels of om professionele hulp te soek nie. Dis danksy 'n nie-winsgewende organisasie, PROJECTSCHOOLS (#PS) wat ten doel het om leerders pro-aktief by te staan om die emosionele uitdagings waarmee hulle gekonfronteer word, die hoof te bied.
Dit blyk dat die behoefte onder leerlinge “om gehoor te word” in hulle stryd met emosionele uitdagings, aan die toeneem is.
#PS plaas jeugwerkers of beter bekend in die organisasie as couchellors (nie formele counsellors nie, maar luisteraars), by skole.
Hierdie jeugwerkers bou verhoudings met alle belangegroepe in die skool, maar veral met die leerlinge om sodoende spontane gesprekvoering te stimuleer en om ‘n “oor” te verleen.
Ter ondersteuning daarvan word 'n gholfdag op 26 April by die internasionale bekende Fancourt gehou. Geld wat ingesamel word sal weer teruggeploeg word in die organisasie en hoofsaaklik gebruik word om die salariskostes van die jeugwerkers te dek en om die organisasie te groei om sy reikwydte te verbreed.
Peet Kruger, direkteur van #PS, het by navraag gesê die behoefte van jongmense in die algemeen om “gehoor” te word, veral in 'n tyd waar hulle tot ‘n groot mate en wyd verbind is deur elektroniese netwerke, maar in werklikheid emosioneel leeg voel en in persoon baie eensaam is, neem beslis toe. Sy eie betrokkenheid is gemotiveer omdat hy iets wou terugploeg in die welstand van jongmense, en hy glo aan die saak.
Alhoewel skole self nie die betrokke jeugwerkers en #PS inisiatiewe finansier nie, is die betrokkenheid van veral die hoofde en die onderwysers van kardinale belang.
Geestelike welstand van leerders en jongmense, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), is ‘n voorvereiste vir gesonde groei en ontwikkeling en vereis dat almal moet hande vat om hierdie potensiële struikelblok in die pad van jongmense aan te spreek.
#PS word deur besighede en individue wat glo in die saak gefinansier deur skenkings en bydraes en stel die organisasie sodoende in staat om couchellors by skole geplaas.
Hierdie sogenaamde couchellors is almal jongmense wat deeltyds studeer in rigtings soos teologie, sielkunde en onderwys and wat 'n streng keuringsproses deurgaan om geplaas te word.
Hulle ontvang voorafopleiding en dit word ook elke Donderdag aangevul. Hulle moet aktiewe luisteraars kan wees, die emosionele welstand en gedragspatrone van leerders kan verstaan en moet maklik met die leerders verhoudings kan bou.
"Hulle sal tipies tydens pouses en met sosiale byeenkomste met die leerlinge sosiaal verkeer en hulle beter leer ken. Die leerlinge is deeglik bewus wie hulle is, en kan hulle ook enige tyd nader as hulle ‘n behoefte sou hê om te gesels.”
Alle verslae word deurgegee na 'n sentrale punt en dit word streng vertroulik hanteer. So kan besluit word watter hulp die betrokkene nodig het. Volgens Kruger is daar talle voorbeelde van leerlinge wat al gehelp is.
Kruger het benadruk hulle neem nie die rol van skoolsielkundiges of maatskaplike werkers oor nie. Hulle is daar om pro-aktiewe hulp te verleen en om hande te vat met die formele strukture van die skole waar nodig en wanneer dit vereis word.
Die organisasie is baie afhanklik van skenkings van individue en sakeondernemings. Die gholfdag word gehou om die fondse aan te vul.
Hoe werk dit?
Gerhard de Jager, uitvoerende hoof, verduidelik hoe belangrik die rapporteringstelsel is waarvolgens gesprekke geklassifiseer word en wat #PS in staat stel om statistieke en verslae te genereer.
'n Toepassing op selfone word gebruik om die aard van gesprekke wat gevoer word met leerders te klassifiseer. Verskillende kleure word gebruik. Groen is 'n verkennende sosiale gesprek sonder enige onmiddellike aksie wat vereis word.
Oranje dui op 'n gesprek of interaksie waar daar tekens is wat daartoe kan aanleiding gee dat 'n moontlike intervensie nodig is en 'n rooi gesprek vereis onmiddellike optrede.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’