HESSEQUA NUUS - Vanaf 23 tot 27 September kan oud en jonk weer ’n fees van musiek en kuns tydens die jaarlikse Hessequa Harmonie in Heidelberg, Wes-Kaap geniet.
Hierdie toeganklike fees bied klassieke musiek wat fynproewers sal bekoor, sowel as ligter musiek, boekbesprekings, toneelproduksies, ’n galakonsert in die historiese NG Kerk, ontbytgesprekke met inspirerende persoonlikhede soos Sandra Prinsloo, en ’n reeks kunsuitstallings om tussen konserte te besigtig.
Die fees skop Dinsdag af met Nataniël en Charl du Plessis in Heidelberg se stadsaal.
Die program sluit verder in musiek uit die baroktydperk, Spaanse klassieke en tango-musiek, ’n jazz-kwartet by die langtafel, ’n produksie met wêreldmusiek, Saint-Saëns se Karnaval van die diere, en die toneelstuk Hans bars die bioborrel.
Erfeniskos word saam met eg Suid-Afrikaanse pinotage wyne bedien, en die kuns van blommerangskik word tydens ’n ontbytpraatjie by Dasjesdrift gedemonstreer.
Die gewilde afsluitingskonsert op die plaas beloof weer ’n hoogtepunt te wees, met Jak de Priester as vanjaar se gaskunstenaar.
Vir die volledige program, besoek hessequaharmonie.co.za
Kaartjies is aanlyn beskikbaar by webtickets.co.za of kan kontant gekoop word by Karee Tree in Heidelberg.
Vir navrae kontak Lindi Smit by 084 4463200 of stuur ’n e-pos aan hessequaharmonie@gmail.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’