GEORGE NUUS - Heinrich Muller van George, wie se naam al sinoniem geword het deur sportprojekte, het verlede Woensdag, 20 Maart, van Robbeneiland na Bloubergstrand in die Kaap in ysige water geswem sodat minderbevoorregte kinders die regte kos kan bekom.
Hy en 'n groep ander swemmers het dit vir die Inani StartWell Foundation, 'n nie-winsgewende organisasie, gedoen. Die organi-sasie help deur proteïene kos vir onderontwikkelde kinders te verseker.
Muller het in die verlede gehelp om geld in te samel sodat onder meer Minke Janse van Rensburg, die downsindroom-swemkampioen aan die wêreldkampioenskappe in Turkye kan deelneem.
Heinrich het Maandag 25 Maart vertel van die nuutste projek waarby hy betrokke was.
Omstreeks 08:00 verlede Woensdag, 20 Maart, het hy en 13 ander swemmers die swemtog vanaf Robbeneiland na Bloubergstrand begin. Hulle is deurentyd vergesel van ondersteuningspersoneel in bote wat seker gemaak het dat hulle veilig is.
Volgens hom was die water aanvanklik hanteerbaar koud, maar hoe nader hy aan die strand gekom het, hoe kouer het dit geword.
Die water was deurentyd 'n konstante 11ºC. Hy het uiteindelik die afstand van 7,5 km in twee ure en 59 minute voltooi. "Die grootste uitdaging was om teen die konstante koue te baklei."
Dit was die eerste keer dat hy die swemtog aangepak het. "Dit was 'n groot uitdaging. Dit was 'n jare lange droom," het hy vertel.
Dis nie onmoontlik dat hy dit weer aanstaande jaar sal aandurf nie. "Ek het al reeds van die koue vergeet," het hy in ligte trant gesê.
Al het dit groot eise aan hom gestel het hy in geen stadium oorweeg om tou op te gooi nie. Dit is net nie in sy aard om iets halfpad te los nie.
Hy kon nie uitgepraat raak oor die projek nie en wil hê dat die gemeenskap ook betrokke moet raak. Hy gaan die projek nou uitbrei na die Suid-Kaap en dat skole in die gebied ook bevoordeel sal word. Die fokus is om onderontwikkelde kinders te help om meer proteïene in te kry wat breinontwikkeling bevoordeel.
Mense en skole wat belangstel om betrokke te raak of meer inligting wil bekom, kan hom kontak by heinrich.gobig@gmail.com of 082 375 4175.
Vir slegs 'n eenmalige donasie van R750 of R75 per maand kan 'n kind vir 'n jaar lank gevoed word met goeie voedsel wat verskaf word deur Inani StartWell Foundation.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’