Hulle was op die regte tyd op die regte plek en het die noodlottige situasie sover moontlik onder beheer gehad.
Twee mense is noodlottig beseer na die tromp-op-botsing tussen ’n insleepvoertuig en ’n Honda Ballade motor. Dié ongeluk het plaasgevind Maandagmiddag omstreeks 3.05nm op die R75 tussen Graaff-Reinet en Jansenville net voor Ravels-kloof.
Na bewering was die insleeptrok van Botha’s Garage onderweg na Graaff-Reinet toe die motor, wat in die rigting van Jansenville gery het, in die trok se baan beweeg en die botsing veroorsaak het, sê polisiewoordvoerder Wena Theron.
Een van die passasiers van die motor, Winston Skots (24), is op die toneel oorlede nadat hy en die ander passasiers met lewenskake uit die voertuig verwyder is.
Die bestuurder, Dick Hopps (35), het later die aand in die Jansenville hospitaal beswyk aan sy beserings.
In die motor was twee ander passasiers, Nadine Bantom en Jennifer Afrika, wat na die Jansenville hospitaal is vir behandeling. Bantom is oorgeplaas na die Livingstone Hospitaal (PE) waar sy vir ernstige rug- en nekbeserings behandel word.
Afrika het geringe beserings opgedoen en so ook die bestuurder van die trok, Joseph Khubu, wat erg getraumatiseer was en vir skok behandel moes word.
Die getroude paartjie, Morné Wagenaar en Ruda Wessels, is Saterdag in Graaff-Reinet getroud en was vir hul wittebrood op pad na PE vanwaar hul Dinsdagoggend gevlieg het na Mauritius.
Die Wagenaars kon na die brandweer by die toneel opgedaag het, help om die beseerdes met lewenskake uit die voertuig te verwyder en met die mediese toerusting wat beskikbaar was, die nodige behandeling toepas. Morné is ’n paramedic wat werk in die trauma-afdeling van ’n hospitaal in Kaapstad en Ruda is besig met haar opleiding as verpleegster by dieselfde hospitaal.
Die voertuig, ’n Ford Ka, wat met die insleeptrok vervoer is, behoort aan Marianne Gerber (voorheen werksaam by die Advertiser).
Meer inligting oor die oorledenes en beseerdes was met die ter perse gaan nog nie beskikbaar nie.
.jpg)
ARTIKEL: TINNEKE GOEDHALS, GRAAF-REINET ADVERTISER (SUSTERKOERANT VAN DIE GEORGE HERALD).