GEORGE NUUS - Die EFF-parlementslid Virgill Gericke, se skuldafbetaling aan Tuinroete-distriksmunisipaliteit is op 17 Junie by 'n vergadering van hul Munisipale Publieke Rekeninge Komitee (MPRK), 'n subkomitee van die munisipale stadsraad, bespreek. Die kwessie was weer in die kollig nadat Good kort na dié vergadering 'n verklaring vrygestel het wat die vorige afbetaalooreenkoms bevraagteken.
Gericke was voorheen 'n raadslid van die PBI (Plaaslike Besorgde Inwoners) aan die distriksraad. Hy is intussen verkies tot EFF-lid van die parlement.
Gericke skuld die munisipaliteit nog 'n bedrag van knap oor die R90 000, nadat 'n administratiewe fout vroeër begaan is en R164 213 oor 'n tydperk van agt maande in sy rekening beland het. Hierdie inbetalings dateer vanaf 2017, toe Gericke op die distriksraad gedien het.
Met George Herald se dekking van die storie op 16 September 2021 (Councillor to pay back thousands), het die destydse burgemeester, Memory Booysen, gesê dat Gericke R500 sedert Augustus 2019 per maand terugbetaal, totdat die volle bedrag verhaal is.
Die MPRK-vergadering verlede Maandag, waar Gericke se saak bespreek is, was nie 'n konfidensiële vergadering nie.
Slakkepas
In Ashwill Oktober, Good-raadslid van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, se verklaring het hy gesê dat hoewel die muni-sipaliteit daarin geslaag het om R70 507 deur SAID en maandelikse aftrekkings van die raadslid se salaris te verhaal, betalings gestaak het toe die raadslid die munisipaliteit in November 2023 verlaat het om sy nuwe posisie in die parlement te beklee.
"In Januarie 2024 is 'n ooreenkoms bereik dat die raadslid terugbetalings teen slegs R500 per maand sou hervat, 'n koers so laag dat dit meer as 15 jaar sou neem om die skuld sonder enige rente te vereffen."
Oktober vra dat Gericke aan-spreeklik gehou word: "Dit gaan nie net oor 'n tegniese fout nie, dit gaan oor etiese bestuur. 'n Sittende parlementslid kan nie voortgaan om voordeel te trek uit 'n munisipale fout sonder om onmiddellike stappe te doen om dit reg te stel nie."
Gericke kap terug
Gericke het opgemerk dat die saak reeds afgehandel is en nie 'n reaksie verdien nie.
"Ek sal aanbeveel dat die raadslid sy huiswerk doen voordat hy verklarings maak en my naam belaster," het Gericke gesê. "Hy [Oktober] word gewaarsku dat hy homself oopstel vir regstappe deur buite die voorreg [van die raad] op te tree en nie vrywaring te geniet nie, aangesien hy buite die raad optree.
Ek sal ook aanbeveel dat hy eerder konsentreer op die bou van sy kwynende party en dienslewering aan die publiek prioritiseer. Good is nêrens te sien wanneer gemeenskappe in nood is nie, maar konsentreer eerder daarop om mekaar te beveg."
Gericke het beklemtoon dat die EFF niks met die saak te maak het nie.
Nuwe onderhandelings
Jan Cornelius van Icosa, voorsitter van die MPRK-komitee, het bevestig dat hulle die raad aanbeveel het dat die hoof finansiële beampte, en enige ander vereiste persoon, onderhandel vir 'n nuwe ooreenkoms met die voormalige raadslid (Gericke) om die uitstaande skuld binne 'n tydperk van ses maande te vereffen.
"Dis nog altyd die posisie van die raad om hierdie uitstaande fondse in te vorder," het Cornelius gesê.
"Daar is ook deur die raad besluit dat die aangeleentheid weer na die MPRK vir verdere ondersoek verwys moes word."
Die MPRK se aanbeveling word vandag, Donderdag 26 Junie, in die raad bespreek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’