GEORGE NUUS EN VIDEO - Na aanleiding van die Victoriastraat-bouramp het lede van Search and Rescue South Africa (Sarza) besluit om 'n nuwe tak in die Tuinroete te stig.
Soos met enige nuwe organisasie, bring die stigting van 'n tak egter groot aanvanklike koste mee.
Om Sarza Garden Route by te staan en noodsaaklike toerusting aan te skaf, het Lenore Collett, 'n lid van die tak, 'n suksesvolle fondsinsamelingsgeleentheid gereël.
Die geleentheid, wat verlede Donderdag, 28 November, by Fancourt plaasgevind het, het 'n gholfdag en 'n dinee met 'n veiling ingesluit.
Altesaam R250 000 is ingesamel, wat aangewend sal word om prioriteits-toerusting aan te koop. Hierdie toerusting sluit onder meer spanradio's en toerusting vir die oprigting van bevelposte in.
Van die belangrikste aankope is 'n titanium-draagbaar met wiele wat verwyder kan word, spesifiek ontwerp vir bergreddingsoperasies.
Mike Muller, voorsitter van Sarza in die Wes-Kaap, het sy dank uitgespreek teenoor almal wat die geleentheid ondersteun het.
"Ons wil graag ons opregte dank uitspreek aan die mense van George vir hul ongelooflike vrygewigheid en ondersteuning. Dankie aan almal wat deelgeneem het aan ons gholfdag en fondsinsamelingsdinee; hul entoesiasme en bydraes het 'n betekenisvolle impak gemaak.
"Hierdie skenkings stel ons in staat om lewensbelangrike toerusting aan te skaf wat ons reddingspogings in die Tuinroete sal versterk. Ons waardeer dit opreg en sien uit daarna om hierdie pad saam voort te stap," het Muller gesê.
Sarza bestaan uit hoogs opgeleide vrywillige reddingswerkers wat in noue samewerking met plaaslike, streek- en nasionale noodbestuur-, rampbestuur- en ander amptelike en burgerlike organisasies werk.
Belangstellendes wat by Sarza wil aansluit, kan meer inligting kry op hul webblad: www.sarza.co.za/join-us/.
VIDEO: Jeff Ayliffe het met een van die Sarza-lede, Gareth Mostert, by die gholfdag gesels:
VIDEO: Kyk na 'n video, saamgestel deur Jeff Ayliffe, hieronder:
Lenore Collett saam met ander Sarza-lede, Colin Deiner, hoof van Wes-Kaapse rampbestuur (derde van links) en hoof van die George-brandweer, Neels Barnard (tweede van links). Langs Barnard is Johan Brand, die afdelingsbevelvoerder by George-brandweer. Foto: Jeff Ayliffe
Leon Scheepers, Riaan Nel, Hendri Viljoen and Charl Snyman. Foto: Deidre Cloete
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’