GEORGE NUUS - Inwoners van George en Middelburg (Oos-Kaap) het saamgewerk om op Donderdag 30 Mei 'n suksesvolle fondsinsamelingsgholfdag by die George-gholfklub aan te bied om koshuisfasiliteite vir kinders in die Karoo uit te brei.
Daar is tans slegs een groot koshuis vir alle leerders in Middelburg - laerskool en hoërskool - en die idee is om vir leerders van Karel Theron Primêr 'n aparte fasiliteit te skep.
Jeannie Erasmus-Venter van Karel Theron se bemarkingsafdeling sê die fondsinsameling het hulle wildste verwagtinge oortref.
"Daar is genoeg geld om reeds op 1 Julie te kan wegspring met die nodige verbouings.
Die Karoo-plaaskinders is vir ons uiters belangrik en daarom het ons die fondsinsameling saam met die Middelburg-skoleondersteunersklub (MS360) aangepak. Ons wil 'n pragtige, huislike koshuis vir die laerskoolkinders skep," sê Erasmus-Venter.
Die inisiatief is gebore toe Suné Lombard, Karel Theron se skoolhoof, 'n plan in werking wou stel vir die behoud van Karoo-koshuiskinders, die skool, en die groter gemeenskap. Sy het 'n vergadering belê met huidige en voornemende koshuisouers, en so hul behoeftes geïdentifiseer. MS360 het hieruit voortgespruit, 'n klub wat dit ten doel het om fondse in te samel vir die verbetering en vooruitgang van die skole in Middelburg.
'n Komiteelid van die ondersteunersklub, Elri Boeyens, se pa Dykie de Villiers het met die plan vorendag gekom. De Villiers woon in Oubaai, en speel gereeld gholf in die omgewing. Hy het sy kontakte gebruik en so begin om die gholfdag te reël en borge in George bymekaar te kry. Nog 'n Georgiet, Pierre Durant, het ook 'n groot rol gespeel in die organisering.
"Aan ons kant het die MS360-komitee gewerk om by boere jagpakkette en wild te kry wat gedien het as pryse en ook opgeveil is aan die einde van die dag. Dit was dus die perfekte byeenkoms van vraag, aanbod, en 'n groep mense met oop harte.
Die gholfspelers wat aan die dag deelgeneem het, het 'n daadwerklike en wesenlike verskil gemaak in die toekoms van die Primêre Skool Karel Theron, en 'n hele generasie koshuiskinders. Danksy hulle kan ons ons Karookinders in die Karoo hou," sê Erasmus-Venter.
Die vierbal wat die eerste plek verower het, is van links: Brian McDonald, JJ Bekker, Devil's Peak-bemarker Megan le Roux, Pierre Durant en Gert Roux.
Die tweede plek is ingeneem deur, van links: Daniël Conradie, Jacques Mather, Dawie Janse van Vuuren en Theo van Rensburg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’