GEORGE NUUS - Die Blancogemeente se jaarlikse Vleismark komende Saterdag, 2 Augustus, gaan na verwagting weer honderde Georgiete lok met topkwaliteit vleis en ‘n feestelike basaar.
Die basaar begin om 08:30 by die 4 Brothers Aartappelstoor en vleisverkope om 09:30. Kopers kan vanaf 08:00 ‘n nommer kry om hul plek in die tou van vleiskopers te bespreek.
Terwyl hulle wag vir 09:30, kan daar gesmul word aan pannekoek, basaarpoeding, kerrie en rys, sosaties en boereworsrolle en die dors kan geles word met koffie en koeldrank.
"Soos laasjaar sal daar meer as genoeg kwaliteit vleis teen die beste pryse in George beskikbaar wees," sê die gemeenteleraar, Francois Mulder.
Vanjaar is daar 5,8 ton beesvleis (25 beeste), 20 skape / lammers en 750kg wild wat verwerk is tot 1,2 ton beeswors, 1,6 ton maalvleis, 400kg beesfrikkadelle ('patties') en 50kg wildsfrikkadelle.
Die beroemde Blanco-worsresep is ‘n goedbewaarde geheim. Bees-, skaap- en wildsvleis sal te koop wees.
Die vleis is van die beste gehalte.
Daar sal ook kindervermaak soos gesigverf, ballondraai, 'n springkasteel en lekkergoedtafel wees.
"Hierdie geleentheid is Blancogemeente se grootste saamkuier en fondsinsameling van 2025. Die organiseerders glo dat dit hulle in staat sal stel om vir nog 'n jaar 'n oophand gemeente te wees wat die gemeenskap dien en ‘n verskil maak," sê Mulder.
Vir enige navrae, kontak die kerkkantoor (Gerda 044 8707 595), die gemeente se WhatsApp-nommer (062 900 8208) of Francois Mulder (082 676 4275).
Johan van Greunen van 4 Brothers boerdery is ook die voorsitter van Blancogemeente se Gemeenteraad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’