GEORGE NUUS - Die kwessie oor geskiedenis as 'n verpligte skoolvak vir alle hoërskoolleerders tot gr. 12 het onlangs die nuus gehaal nadat die onderwerp in die portefeuljekomitee van basiese onderwys in die parlement bespreek is.
"Die eerste gesprekke hieroor het meer as 10 jaar gelede plaasgevind en Fedsas was destyds ook deel van die gesprekke," het dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die federasie van beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas), gesê.
"Geskiedenis is reeds deel van die kurrikulum tot en met gr. 9 en die gesprek is of dit verpligtend moet wees tot en met gr. 12."
Volgens Deacon het hy self ernstige bedenkinge hieroor. "Die kurrikulum is reeds te vol en die skooldag klaar te lank en ons moet ernstige vrae hieroor vra. Ons het ook nog nie die finale kurrikulum gesien nie en weet ook nie of daar voldoende opgeleide geskiedenisopvoeders is nie," het hy gesê.
Verskeie navrae aan Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die nasionale departement van basiese onderwys, is onbeantwoord.
Deacon voer aan dat die realiteit vandag baie anders lyk as 10 jaar gelede, toe die gesprek oor geskiedenis afgeskop het. "Ons worstel met werkloosheid, die ekonomie sukkel en die mark het bepaalde behoeftes. Die vraag is of dit in die beste belang van die gr. 10 tot 12-leerders sal wees indien die vak verpligtend word.
"Daar is intussen ook 'n nuwe minister, ons is deur Covid, het die koms van kunsmatige intelligensie in die onderwyssektor beleef en die wêreld het verander. Ek dink ons moet weer hieroor besin."
Geen duidelike rigting
Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Solidariteit-skoleondersteuningsentrum (SOS), het gesê dat daar steeds geen duidelike rigting of implementering van hierdie voorstel is nie. Die voormalige minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het destyds 'n taakspan aangestel om geskiedenis as 'n verpligte vak te ondersoek.
"Die SOS beklemtoon dat die oorvol kurrikulum en die tekort aan geskiedenis-onderwysers groot struikelblokke is," het Buys gesê. "Verder wys die SOS op die belangrike rol van geskiedenis in die oordrag van kultuur, terwyl hulle ook die risiko's van 'n ongebalanseerde benadering tot die vak uitlig.
"Skole het die verantwoordelikheid om denkende en moreel gegronde burgers die wêreld in te stuur," verduidelik Buys. "Leerders moet krities kan omgaan met leerstof. Dit beteken dat geskiedenis vanuit verskeie perspektiewe aan leerders gebied moet word en dat hulle deur opvoeders gelei moet word om dit te interpreteer en hul eie menings te vorm.
"Dit is noodsaaklik dat geskiedenis op gebalanseerde wyse onderrig word, binne 'n breë kurrikulumraamwerk."
Sy beklemtoon dat hoërskole oor beperkte kapasiteit beskik vir die toevoeging van nog 'n verpligte vak.
"Die SOS bepleit 'n realistiese benadering, met uitvoerbare planne wat nie net geskiedenis betref nie, maar ook ander goeie projekte soos die algemene onderwyssertifikaat vir gr. 9 en kodering en robotika, wat tot 2026 uitgestel is," het sy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’